Die padkonstruksieprojek in Lynnwoodweg, Pretoria, wat deur die kontrakteur TCT Civil and Construction CC onderneem word, het op 26 Mei 2023 begin met ’n oorspronklike voltooiingstydperk van 18 maande.
Die kontrakteur is nou reeds 21 maande verby die aanvanklike voltooiingsdatum en versoek nog ’n verdere verlenging van drie maande. Op grond van die kontrakteur se prestasiegeskiedenis is daar min tot geen vertroue dat dit die laaste verlenging sal wees.
Die projek naby Loftus-stadion is aanvanklik teen ’n kontrakwaarde van R145,9 miljoen toegeken, maar die koste het intussen tot sowat R171 miljoen gestyg sonder dat die werk afgehandel is.
Tot dusver is gesertifiseerde betalings van meer as R123 miljoen geëis, terwyl die terrein gekenmerk word deur vertragings, swak prestasie en onvoldoende veiligheidsmaatreëls wat reeds tot die tragiese dood van ’n rugbyondersteuner gelei het.
Tydens ’n raadsvergadering van die Tshwane-metroraad het die VF Plus ’n beroep gedoen dat die kontrakteur verwyder en op ’n swartlys geplaas word, asook vir ’n omvattende ondersoek na die keurings- en aanstellingsproses wat tot die toekenning van hierdie kontrak gelei het.
Die oorsigkomitee vir paaie en vervoer het vroeër reeds aanbeveel dat die kontrakteur verwyder en swartlys gemaak word weens onbekwaamheid en swak prestasie. Die raad het dié aanbeveling bevestig, maar die kontrakteur gaan steeds voort met die projek.
Die VF Plus het ook versoek dat ’n forensiese ondersoek na alle huidige projekte wat aan TCT Civil and Construction CC toegeken is, asook ’n deeglike prestasie-evaluering van die kontrakteur, gedoen word.
Inwoners van Tshwane verdien infrastruktuurprojekte wat veilig, professioneel, betyds en binne begroting afgelewer word – nie duur mislukkings wat lewens in gevaar stel en belastingbetalers droog melk nie.


