Die VF Plus verwerp die konsepbegroting van die Tshwane-metro vir die 2025/26-finansiële jaar wat inwoners met buitensporige belasting, onregverdige heffings en twyfelagtige finansiële praktyke gaan belas.
Hierdie begroting prioritiseer geldgenerering bo etiese regering, ignoreer ekonomiese realiteite en versuim om finansiële regverdigheid te verseker.
Die VF Plus steun nie die konsepbegroting nie om die volgende redes:
• Onregverdige eiendomswaardasie en oormatige belasting’
Die algemene eiendomswaardasierol het gelei tot gemiddelde waardeverhogings van 24.17% op eiendomme wat belastingverpligtinge aansienlik verhoog.
Die metro voer aan dat hy die impak verminder het deur die tarief met 4% te verlaag en die drumpelwaarde van R150,000 tot R250,000 te verhoog, maar dit bied geen werklike verligting nie.
Met ʼn teiken van R11,19 miljard vir eiendomsbelastinginkomste – ’n 10%-styging van die vorige jaar – oorskry hierdie verhoging inflasie en ekonomiese groeivooruitskattings.
Sommige huiseienaars moet waardasiestygings van 30% tot 300% absorbeer, met geen substansiële belastingverligting nie.
Die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (SAPOA) en AfriForum het sterk besware hierteen ingedien en dit beklemtoon die VF Plus se siening dat hierdie begroting onrealistiese inkomste-uitbreidings teiken en huiseienaars onregverdig benadeel.
• Onregverdige en omstrede stedelike skoonmaakheffing vir inwoners en ondernemings wat van private vullisverwyderingsdienste gebruik maak.
Hierdie heffing dwing hulle om te betaal vir ʼn diens wat hulle nie van die metro ontvang nie. Dit is ook ʼn vorm van dubbele belasting en is ʼn oortreding van die Munisipale Finansiële Bestuurswet wat bepaal dat munisipale heffings werklike diensgebruik moet weerspieël.
Die VF Plus eis dat die skoonmaakheffing afgeskaf word.
• Infrastruktuurverval en diensleweringsgebreke.
Terwyl die metro belasting verhoog en nuwe heffings oplê, verval die metro se infrastruktuur. Paaie en waterpype is in ʼn haglike toestand en kragnetwerke faal herhaaldelik.
Gereelde kragonderbrekings en watertekorte is nie net ʼn ongemak nie, dit is ernstige finansiële laste wat ondernemings verlam en ekonomiese groei belemmer. Die VF Plus veroordeel die metro se versuim om in infrastruktuur-instandhouding te belê en eis dringende ingryping om verdere verval te keer.
• Die metro se verkrygingsbeleid gegrond op swart ekonomiese bemagtiging (SEB) lei tot oormatige koste wat onnodig uitgawes verhoog en openbare fondse uitput. Baie kontrakte word teen oordrewe pryse toegeken, wat eerder ʼn uitgesoekte groep bevoordeel as om kwaliteit dienslewering te verseker.
Die VF Plus eis dringende verkrygingshervorming, met deursigtigheid, kostedoeltreffendheid en verantwoordelike finansiële bestuur as prioriteite.
Die metro beweer hierdie begroting is volledig befonds, maar sy stabiliteit berus uitsluitlik op betwiste inkomstebronne. Indien eiendomswaardasies verlaag of die stedelike skoonmaakheffing suksesvol betwis word, sal die Tshwane-metro gedwing word om:
• Oormatige uitgawes te verminder om verlore inkomste te verreken.
• Alternatiewe, wettige inkomstebronne te verken eerder as buitensporige belasting.
• Finansiële beleid te hervorm om aan grondwetlike vereistes te voldoen.
Billikheid, rekenskap en finansiële geregtigheid moet seëvier.
Die VF Plus verwerp die 2025/26-finansiële begroting. Die party doen ʼn beroep op die raad om verantwoordelik op te tree en die belange van Tshwane se inwoners te beskerm.


