Tydens ’n spesiale raadsvergadering van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit is salarisaanpassings en jaarlikse verhogings vir die munisipale bestuurder en algemene bestuurders goedgekeur op grond van graad 6-vergoedingskale, alhoewel Ehlanzeni as ’n graad 5-munisipaliteit geklassifiseer is.
Die besluit is geneem ten spyte van die feit dat daar geen duidelike bewys is dat die munisipaliteit wettiglik na ’n hoër klassifikasie oorgegaan het of dat die nodige administratiewe vereistes nagekom is nie.
In ‘n raadsverslag word erken dat die nienakoming van die boonste vergoedingsperke onreëlmatige uitgawes daarstel en verpligte verhaalverpligtinge meebring.
Luidens die verslag sal die besluit R1,706 miljoen aan bykomende vergoeding en agterstallige selfoontoelae tot gevolg hê – waarvan R1,463 miljoen die 2025/26 boekjaar raak en R243 853 die huidige boekjaar.
Die vorige jaar se uitgawe sal uit opgehoopte surplusse befonds word, terwyl die huidige jaar se uitgawe uit die werknemersverwante kostebegroting van sowat R175,5 miljoen gedek word.
Teen die agtergrond van ouditkwessies en die munisipaliteit se afhanklikheid van toelaebefondsing, is dit onseker of hierdie verhogings volhoubaar bekostig kan word sonder om dienslewering te benadeel.
Billike en wettige vergoeding is noodsaaklik, maar inwoners se behoeftes, infrastruktuur en basiese dienste moet eerste kom.
’n Meerderheidstem kan nie ’n onreëlmatige proses wettig maak nie. Aanspreeklikheid, wetlike nakoming en volhoubare finansiële bestuur moet die prioriteit bly.


