fbpx
Vryheidsfront Plus

Inwoners van Mogale City moet opstaan teen nuwe kragtariewe

Inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) moet hulle staal vir die Wet van Transvaal met die implementering van die nuwe kragtariewe.

’n Voorlegging van Given Masuku, uitvoerende bestuurder van die departement van nutsbestuurdienste, aan raadslede op Woensdag 21 Augustus, het dít baie duidelik gemaak.

Residensiële kragverbruikers met konvensionele kragmeters sal tussen 23% en 27% per maand meer moet opdok, afhangend van hul verbruik. Hoe meer elektrisiteit verbruik word (gemeet in kilowatt/uur kWh), hoe groter gaan die verhoging wees.

Die nuwe tariefstruktuur is uiters ingewikkeld, met seisoenale tariewe, asook tariewe gegrond op verbruik.

Verder is daar ook nuwe vaste kostes, onder meer ’n kapasiteitsheffing gegrond op die hoeveelheid elektrisiteit wat aan eindverbruikers beskikbaar gestel word.

Asof dit nie erg genoeg is nie, gaan groot nywerheidsverbruikers tot 39% meer moet betaal tydens wintermaande wanneer die hoër “seisoenale tariewe” van krag is.

Hierdie besluit kan ’n uiters negatiewe impak hê op werkskepping in Mogale City, want die raad maak dit hiermee uiters onaantreklik vir beleggers om in die plaaslike nywerheidsgebiede te belê.

Die implementering van die nuwe tariefstruktuur blyk moontlik onwettig te wees aangesien die raad nie die nodige dokumentasie betyds aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) voorgelê het nie.

Die VF Plus het ’n navraag gerig aan die speaker, Lucky Sele, oor die dokumentasie aan Nersa, maar het nog geen terugvoering ontvang nie.

AfriForum het reeds ’n regsgeding aanhangig gemaak teen onder meer die munisipaliteit en Nersa.

Die VF Plus steun AfriForum heelhartig in die geding aangesien burgerregte-organisasies en politieke partye moet hande vat om te verseker dat waar die staat faal, die gemeenskap moet ingryp.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.