(Debat oor Gautengse openingsrede)
Die VF Plus beskou die ekonomiese planne wat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, tydens sy provinsiale openingsrede aangekondig het, as onvoldoende om die provinsie se swak ekonomie om te keer.
Gauteng se swak ekonomie situasie benodig dringend ʼn waterskeidingsoomblik waar bewese ekonomiese beleid sonder verwyl in werking gestel moet word.
Dit blyk egter of Lesufi nie die provinsie se swak ekonomie toestand en hoë werkloosheidsyfer ernstig opneem nie.
Die Gautengse ekonomie was in 2022 volgens Statistieke SA R2,2 triljoen groot, maar die provinsie het tans ‘n algehele werkloosheidskoers van 47%.
Dit beteken die Gautengse ekonomie – die grootste provinsiale ekonomie in Suid-Afrika, het ironies ook die hoogste werkloosheidskoers in die land.
Gauteng het ook die hoogste bevolkingsyfer van alle provinsies. Daarom sal enige beleid en programme wat Gautengse ekonomiese gesonder maak, ‘n wesenlike verbetering aan die nasionale werkloosheidsyfer bring.
Ten spyte van hierdie feite, het die Lesufi nie enige werklike bydrae gelewer om aan te dui hoe die ANC-minderheidsregering die ekonomie kan vergroot en groei, dit versnel en meer werksgeleenthede skep nie.
Gegewe die R2,2 triljoen plus grootte van die Gautengse ekonomie, sal dit wesenlike ingrypings verg om verdere groei te bewerkstellig, veral die soort wat volhoubare werksgeleenthede skep.
‘n Onlangse verslag van die Gautengse wetgewer se ekonomiese ontwikkelingkomitee dui juis aan dat die Gauteng Groei en Ontwikkelings-agentskap beide sy mikpunte vir binnelandse en buitelandse beleggings wesenlik gefaal het. Daar is eenvoudig nie belangstelling om in Gauteng te belê nie.
Indien mens sou wou weet hoe om genoegsame beleggings na Gauteng te lok, kan die ekonomiese geskiedenis van state soos Suid-Korea, Singapoer en Mauritius bloot bestudeer word.
Dit is baie duidelik dat die voorvereiste vir enige groot binnelandse en buitelandse beleggings, die skep is van ‘n sakevriendelike omgewing deur die aanvaarding en implementering van ʼn vryemark-gerigte beleid.
Lesufi se aankondigings van nuwe beleggings in Gauteng bestaan meestal uit regerings- en privaat sektor-beleggings in infrastruktuur.
Hierdie beleggings word verwelkom, maar die soort beleggings wat ‘n hoë werkskepping-impak sal hê, naamlik die skep van nuwe ondernemings in die vervaardiging- en inligtingstegnologie-sektore, gebeur eenvoudig nie genoeg nie.
Die praktiese oplossing vereis dat groot multinasionale maatskappye na Gauteng gelok moet word deur die gebruik van Gauteng se spesiale ekonomiese sones met toegewyde kragvoorsiening en vervaardiging-infrastruktuur asook beleggersvriendelike belastingvoordele.
Die VF Plus sal, gegewe hierdie gebreke in Lesufi se planne, daadwerklik aan die werk spring om die Gautengse regering se ekonomiese plan (GGT2030) aan te pas wat die pad kan oopmaak na die tipe beleggings wat Gauteng nodig het.