Hoewel enige besteding aan rioolinfrastruktuur in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit verwelkom word, is die VF Plus bekommerd daaroor dat Welkom aan die agterspeen suig.
In antwoord op ‘n vraag van die VF Plus, het die minister van water en sanitasie, mev. Pemmy Majodina, aangedui dat haar departement R1.6 miljard bewillig het om sanitasieprobleme in Matjhabeng aan te spreek.
Dié bedrag is aansienlik meer as die R425 miljoen wat die voormalige minister, Senzo Mchunu, in November 2022 tydens sy besoek aan die munisipaliteit aangekondig het.
Uit Majodina se antwoord blyk dit egter dat die meerderheid van hierdie fondse in Thabong bestee gaan word.
Die VF Plus is van mening dat Welkom se sanitasieprobleme ewe veel aandag verdien, veral gegewe die kritieke uitdagings in gebiede soos die Goldfields Mall, Koppie Alleenweg en Constantia, waar riool al vir maande in die strate stroom.
Welkom is die hoofstad van die munisipaliteit, met die meeste sakelui en inwoners wat deur hul munisipale bydraes ‘n groot deel van Matjhabeng se inkomste verseker.
Volgens die minister se antwoord het die werklike uitgawe aan ingrypings teen die einde van Julie 2024 R679 miljoen beloop. Dit behels onder meer uitgawes aan konstruksie, professionele fooie en noodherstelwerk.
Die VF Plus sal in ʼn opvolgvraag versoek dat die minister meer duidelikheid gee oor wat die professionele fooie behels en hoe dit tot die verbetering van infrastruktuur bygedra het.