Slegte skuld en dwingelandy loop hand-aan-hand, en al is daar tans ‘n stortvloed negatiewe gebeure wat soos ‘n donker wolk oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte en kredietstatus hang, is daar tog lig in die tonnel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Volgens adv. Alberts kan selfs Marikana in die Suid-Afrikaanse konteks hieraan gekoppel word, en meer Marikana’s is die voorland indien drastiese stappe nie geneem word nie.
Vir die onmiddellike is daar die waarskynlike afwaartse aanpassing van die land se groeikoers na 1,8%, Fitch se afwaartse aanpassing van die land se ekonomiese vooruitsigte van positief na negatief, afgradering staar Transnet in die gesig nadat hy sy klasaksie-saak teen pensioenarisse verloor het, ‘n boikot-aksie teen e-tol kan dieselfde met Sanral laat gebeur en daar heers ‘n wyd algemeen negatiewe gevoel oor ekonomiese vooruitsigte.
Adv. Alberts sê die goeie nuus is dat die sitasie steeds omgekeer kan word indien onmiddellik aan die werk gespring word.
“Daar is eksterne faktore wat ‘n groot rol speel om Suid-Afrika se ekonomiese groei en werkskepping te kniehalter, maar daar is ook verskeie interne faktore wat binne ons beheer lê. Suid-Afrika het die geskiedkundige voordeel om te leer uit ander se foute en die beste beleidstukke vanuit die wêreld te neem met die wete dat dit beproef is en werk. Daardie beleidstukke verg dalk net klein aanpassings vir ons eie omstandighede.
“Armoede en werkloosheid kan vergelyk word met die ebola-virus. Indien die omstandighede reg is, sal dit versprei en wyd kontamineer. Tog, indien mens behoorlike reëls in plek stel en almal gehoorsaam dit, kan die virus se verspreiding gekeer en uiteindelik oorwin word.
“Ons moet hierdie internasionaal beproefde resepte gebruik om die regte omgewing te skep om armoede te bestry. Dit word gevind in die beginsels wat die fondament gelê het vir die industriële rewolusie.
“Hierdie reëls, toegepas sonder vooroordeel en korrupsie, kan Suid-Afrika se situasie omdraai. Maar sonder hierdie basiese reëls kan ons begroot vir ‘n donker toekoms,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403