fbpx
Vryheidsfront Plus

Infasering van laer inperkingsvlakke in Gauteng vind te stadig plaas

Die VF Plus neem kennis dat die premier van Gauteng, David Makhura, die provinsie se inperkingsvlak in geheel wil verlaag na Vlak Drie, maar dink nie dis genoeg om Gauteng se ekonomie te red en hongersnood te voorkom nie. 

Die premier moes meer druk op die nasionale regering geplaas het om te sorg dat die ekonomie van Gauteng, wat ook die ekonomiese hart van Suid-Afrika is, gouer oopmaak. Daarom gaan die VF Plus die premier versoek om ondersoek daarna in te stel om sekere ondernemings geleë in lae geïnfekteerde gebiede reeds na Vlak Twee te skuif.

Die premier het gister tydens die virtuele sitting van die Gautengse wetgewer aangedui dat hy Gauteng as ‘n eenheid beskou en dat hy weens die ineengestrengelde aard van die ekonomie en die beweging van mense tussen stede en dorpe nie ‘n gedifferensieerde benadering in die provinsie kan volg nie.

Alhoewel die premier se siening logies is, is daar talle soorte ondernemings wat plaaslik van aard is en wat nie kliënte bedien wat van elders kom nie. Daardie ondernemings, soos haarkappers en ander klein sake, moet die geleentheid kry om weer op dreef te kom.

Die infeksievlakke in Gauteng verskil van plek tot plek wat sodanige differensiasie moontlik maak. Daarom sal die VF Plus met die premier in gesprek tree om ‘n meer strategiese benadering te volg wat verdere skade aan die ekonomie kan mitigeer.

Indien daar nie strategies slim gewerk word nie, sal talle mense hul inkomste permanent verloor met geweldige maatskaplike gevolge.

Die skade aan die ekonomie is reeds enorm en uiteindelik sal mense bloot voortgaan met planne vir oorlewing ongeag die grendelstaat-vlak en sal die regering se regulasies bloot geïgnoreer word.

Daar is al talle tekens daarvan te bespeur wat ‘n aanduiding is dat die regering sy hand oorspeel wat sy legitimiteit in die gedrang bring. Dit is tyd dat die regering die erns besef dat ‘n groter klem op ekonomiese oorlewing nou van kardinale belang is.

 

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.