fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-regering erken dat ras nie kriteria sal wees vir ekonomiese hulp, maar VF Plus bly skepties

Die Gauteng-regering het by monde van die LUR oor ekonomiese ontwikkeling, Morakane Mosupyoe, tydens die virtuele wetgewer-sitting gister erken dat ras nie ‘n faktor sal wees vir ondernemings om ekonomiese hulp te ontvang nie. Dit kom na aanleiding van ‘n vraag in dié verband wat deur Amanda de Lange, VF Plus LPW in Gauteng, gevra is. Alhoewel die antwoord positief is, bly die VF Plus egter skepties.

Die ANC-wetgewerlede se reaksie op die vraag was veelseggend. Een van die wetgewerlede van die ANC het sommer self die vraag namens die LUR probeer beantwoord deur aan te dui dat die ANC ‘n nie-rassige party is en dat die vraag eintlik ongevraagd is. Die LUR het weer op haar beurt gewys dat die vraag haar baie ongemaklik maak en het dit as onvanpas bestempel. Daarna het sy aangedui dat ras nie ‘n faktor sal wees nie, want dit reflekteer nie die denke van die ANC nie.

Die ANC se ongemaklike reaksie op die vraag asook die feit dat die ANC-regering op nasionale vlak teruggegaan het op hul woord dat hulp aan klein-sakeondernemings nie onderhewig sal wees aan swart ekonomiese bemagtigingsvereistes nie, laat die VF Plus uiters skepties of die Gauteng-regering by hulle woord sal bly.

Die onderneming van die Gauteng-regering kom ook teen die agtergrond van die premier, David Makhura, se aanduiding dat die klein-sakeondernemingsfonds wat deur die regering en die privaat sektor geskep is, merendeels ondernemings in informele nedersettings gaan help.

Die VF Plus sal die proses van hulpverlening aan ondernemings dophou en nie huiwer om op te tree om die Gauteng-regering gebonde aan sy woord te hou nie.

 

Kontakbesonderhede : 071 604 9498

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.