fbpx
Vryheidsfront Plus

Vinnig verslegtende maatskaplike situasie in Suid-Afrika neem ernstige afmetings aan

Die VF Plus is bekommerd oor die vinnig verslegtende sosio-ekonomiese situasie in Suid-Afrika. Die negatiewe impak van die Covid-19-inperkings op gemeenskappe regoor die land begin nou ernstige afmetings aanneem.

Die Covid-19-regulasies, asook die afwykende en soms onsinnige toepassing daarvan, lei tot ‘n groeiende weerstand onder alle vlakke van die samelewing en ondermyn die geloofwaardigheid van alle regeringsvlakke.

Die ongedissiplineerde optrede van munisipale werkers in noodsaaklike dienste wat nou met reëlmaat hierdie dienste in veral die groter munisipaliteite onderbreek met onwettige stakings, vererger die opvatting onder inwoners dat die owerhede beheer oor die grootliks selfgeskepte, situasie verloor het.

‘n Styging in misdaadvlakke, veroorsaak deur misdadige elemente wat die polisie en wetstoepassers se betrokkenheid by Covid-19-verwante oortredings uitbuit, skend gemeenskappe se vertroue in die owerhede nog verder.

Gemeenskappe voel weerloos en uitgelewer aan omstandighede waaroor hul geen beheer het nie en ervaar dat selfs wetstoepassers hulle in die steek laat. Die feit dat buurt- en plaaswagte verbied word om te funksioneer, skep ‘n nog groter breuk in die vertrouensverhouding tussen gemeenskappe en die owerheid.

Die stemme van weerstand is besig om ‘n koor te word en oproepe tot belastingboikotte onder andersins wetsgehoorsame inwoners, is nie meer vreemd nie.

Terwyl klein- tot mediumgrootte ondernemings steeds deur soms obskure regulasies gedwing word om gesluit te bly, raak die rye vir kospakkies langer en die aantal skenkers al hoe minder. Al hierdie faktore skep ‘n plofbare situasie wat nie deur die owerhede onderskat kan word nie.

Die gesindheid van alle wetstoepassers insluitend polisielede, die weermag en amptenare wat verantwoordelik is vir die toepassing van die Covid-19-regulasies, moet ferm gemonitor word. Enige magsvergrype of onsensitiewe optrede moet in die kiem gesmoor word.

Die VF Plus doen alles in sy vermoë om die regering te dwing om van irrasionele regulasies afstand te doen, die ekonomie te ontsluit en slegs maatreëls inplek te stel wat inlyn daarmee is om die verspreiding van die virus te beperk.

Kontaknommer: 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.