Die VF Plus het die Gautengse onderwysdepartement suksesvol versoek om die beplande COVID-19-veiligheidsprotokol vir die heropening van skole op 1 Junie, vir openbare deelname vry te stel.
Die versoek is vandag gerig tydens ‘n virtuele onderwyskomitee-vergadering van die Gauteng-wetgewer. Die verwagting is dat die protokol môre (22 Mei) gepubliseer sal word vir openbare deelname.
Die VF Plus het heelwat navrae van ouers ontvang wat bekommerd is oor die veiligheid van hulle kinders by skole. Hulle sal nou die geleentheid kry om die provinsiale regering se planne te bestudeer en voorstelle te maak waar daar gebreke mag wees.
Ten einde ouers by te staan om die veiligheidsprotokol maklik te vind en kommentaar te lewer, sal die VF Plus die dokument op sy webwerf (www.vfplus.org.za) plaas. Kommentaar kan gestuur word na skole@vfplus.org.za. Die VF Plus sal die voorstelle aan die departement oorhandig vir oorweging.
Die VF Plus het ook vasgestel dat alle skole, ongeag die kwintiel-vlak waarop dit ingedeel is, persoonlike beskermingstoerusting van die onderwysdepartement sal ontvang ten einde te sorg dat alle skole voldoende voorberei word om veilig oop te maak in die COVID-19-omgewing.
Die VF Plus sal die proses monitor ten einde te verseker dat alle leerlinge en onderwysers voldoende beskerming geniet nadat skole begin oopmaak het.
Kontaknommer: 082 391 3117