Die uitspraak van die Wes Kaapse Hooggeregshof wat die Stad Kaapstad se vaste tariewe vir stadswye skoonmaak, water en riool in die 2025/26 begroting as onwettig en ongeldig verklaar het, bevestig die VF Plus se deurlopende uitsprake oor die aangeleentheid.
Die hof het beslis dat hierdie tariewe met ingang van 30 Junie 2026 tersyde gestel moet word en het die Stad gelas om die regskoste van die aansoekers, waaronder die South African Property Owners’ Association (Sapoa) en AfriForum, te betaal.
Die VF Plus het van die begin af sterk beswaar aangeteken teen die tariefstruktuur en het gewaarsku dat die koppeling van vaste tariewe aan eiendomswaardes onregverdig en ongrondwetlik is.
Tariewe moet gegrond wees op werklike verbruik en dienste wat gelewer word, nie op die markwaarde van ’n eiendom nie. Hierdie stelsel was in werklikheid ’n verbloemde bykomende eiendomsbelasting en het veral middelklas- en werkende inwoners gestraf wat reeds swaar dra onder stygende kostes.
Die hofuitspraak is ’n bewys dat die DA in Kaapstad nie die regte balans gevind het tussen inkomstegenerering en billikheid teenoor belastingbetalers nie.
Die VF Plus sal aanhou toesien dat munisipale tariewe regverdig en deursigtig bly en dat inwoners nie onnodig belas word nie.
Die party doen ’n beroep op die stad om die hof se uitspraak volledig na te kom en om in die volgende begroting ’n regverdige, wetlik korrekte tariefstruktuur in te stel wat die beginsel van verbruik en dienslewering respekteer.


