Die DA, EFF en ActionSA het vandag doelbewus die Ekurhuleni-metro se raadsvergadering stopgesit en daarmee bewys dat hulle nie ernstig is oor die belange van kiesers of inwoners nie.
In stede van verantwoordelike deelname, het hulle politieke opportunisme bo dienslewering en goeie bestuur gestel.
Die afwesigheid van die speaker, John Senona, en burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, was geen geldige rede om die vergadering te ontspoor nie.
Die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi, was as waarnemende burgemeester beskikbaar en volgens gevestigde praktyk kon ’n waarnemende speaker aangewys word om die werksaamhede voort te sit.
Die VF Plus het doelbewus aangebly omdat die party die belange van inwoners eerste stel en bereid was om die agenda af te handel.
Die moontlike skorsing van die munisipale bestuurder, Kagiso Lerutla, sou dalk dringend voor die raad gedien het.
Deur die vergadering te laat ontspoor, het die DA, EFF en ActionSA nie net verantwoordbaarheid verydel nie, maar ook belastingbetalers se geld vermors.
Fondse is onder meer bestee aan spyseniering vir ’n vergadering wat nooit plaasgevind het nie.
Inwoners moet hierdie optrede onthou wanneer hulle gaan stem, want dit wys duidelik waar hierdie partye se prioriteite lê.
Die VF Plus bly verbind tot verantwoordelike bestuur en om die gemeenskap se belange eerste te stel.


