Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Merafong se herstelplan nie op koers

Dit is duidelik dat Merafong se verpligte finansiële herstelplan, wat sedert Junie 2024 van krag is en tans in sy uitvoeringsfase is, nie help om die ANC-beheerde plaaslike munisipaliteit se finansiële posisie te verbeter nie.

Die munisipaliteit se huidige invorderingskoers vir basiese dienste gelewer is steeds nie naastenby voldoende om ʼn verbetering in sy finansies teweeg te bring nie.

Die invorderingskoers vir Maart 2026, wat die laaste maand van die derde kwartaal van die 2025/2026-finansiële jaar is, staan op 59%, wat agt persentasiepunte swakker is as wat dit in die eerste maand van die finansiële jaar was.

Wat waterverkope aanbetref, het Merafong in Maart 2026 ‘n verlies van 15,05% gely wat op byna R3 miljoen neerkom en die opgehoopte verlies vir die geldjaar op meer as R66 miljoen te staan bring.

Kragverkope het veel swakker gevaar met ‘n maandelikse verlies van 53,69% wat R24,4 miljoen verteenwoordig en die finansiële jaar se verliese op byna R228 miljoen te staan bring.

Die opgehoopte skuld wat meer as 30 dae aan grootmaatverskaffers agterstallig is, het nou verder gegroei tot R1,9 miljard aan Eskom en R1,5 miljard aan Rand Water.

Ten spyte van dié swak prestasie is onreëlmatige uitgawes van R9.8 miljoen uitgewys.

Om alles te kroon word weinig vordering gemaak om regstellende aanbevelings ná ‘n gekwalifiseerde oudit van die ouditeur-generaal (OG) van die vorige finansiële jaar in werking te stel.

Met ‘n driekwart van die finansiële jaar agter die rug, is slegs 35 van die 87 bevindinge van die OG al suksesvol in werking gestel.

Terwyl die inwoners van Merafong gebuk gaan onder swak dienslewering en lae waterdruk weens beperkende maatreëls oor agterstallige skuld, sloer die munisipaliteit om daadwerklike stappe te doen om die situasie vir inwoners te verbeter.

Dit is duidelik dat die ANC nie weer toegelaat mag word om Merafong verder die afgrond in te bestuur nie.

Inwoners het nou die geleentheid om te registreer en by die stembus die ANC uit die Merafong-raad te hou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.