Die Tshwane-metro kon nog geen aanduiding gee wanneer die krag na groot dele van Centurion herstel sal wees ná ʼn brand by die Rooihuiskraal-substasie op 4 April nie.
Gebiede in Centurion wat hierdeur geraak word, sluit in Heuweloord, Monavoni, Amberfield, Eldoraigne, Celtisdal en dele van Wierdapark.
Tegnici van die metro se departement van energie werk dag en nag om die herstelwerk af te handel. Daar is egter geen vasgestelde datum waarteen die herstelwerk voltooi sal wees nie. Die verwagting is dat die krag nog ten minste vir die volgende drie dae sal af wees.
Die VF Plus se takvoorsitter in Wyk 48, Martie Pretorius, het die afgelope dae meer as 80 munisipale werkers van kos voorsien wat betrokke is by die herstel van die substasie.
Sy het ook vir inwoners reëlings getref om hul bederfbare voedsel by verskeie plekke te berg, insluitend die NG-gemeente van Raslouw.
Die VF Plus sal inwoners op hoogte hou met die vordering van die herstelwerk.


