Die uitspraak en bevindings van die Grondwethof vanoggend teen die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, dat sy onder meer haar mandaat oorskry het, is verdoemend en dit sê inderwaarheid sy is onbevoeg vir die amp as Suid-Afrika se OB.
Die Grondwethof het vanoggend bevind die OB het ‘n “groot hoeveelheid onwaarhede” in die saak geuiter en haar verslag was nie gegrond op deeglike ekonomiese raad nie. Ook dat sy versuim het om te verklaar waarom sy nie met die president en die staatsveiligheidsagenskap ontmoet het toe haar ondersoek aan die gang was nie.
Die saak spruit uit ‘n verslag van Mkhwebane in Junie 2017 waarin sy beveel het dat Absa ‘n bedrag van R1,125 milard aan die Reserwebank moet terugbetaal. Volgens die OB was dit ‘n “reddingsboei” wat die Reserwebank in die apartheidsjare onregmatig aan Bankorp betaal het.
Die hof het bevind die OB het haar mandaat oortree, sy was nie eerlik nie en het nie met die betrokke partye wat in die verslag genoem word, ontmoet nie.
Dit laat geweldig baie vrae ontstaan oor haar jongste bevindinge wat betref president Cyril Ramaphosa en skep opnuut die indruk dat sy nie onpartydig en objektief is soos wat van haar verwag word nie.
Die VF Plus versoek weereens dat die ondersoek na Mkhwebane se bekwaamheid en bevoegdheid by die parlement se portefeuljekomitee oor justisie bespoedig word, veral na vandag se uitspraak van die Grondwethof.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216