Die VF Plus in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt, Emzinoni) eis dat ’n volledige oudit van stormwaterdreineringstelsels en infrastruktuurtoestande in die plaaslike dorpe uitgevoer word.
Die versoek is per griefskrif ingedien by die kantoor van die departement van siviele ingenieurswese en sluit in die onaanvaarbare toestand van infrastruktuur; veral die verwaarlosing van stormwaterdreine, toegegroeide spruite en die vervalle sypaadjies in verskeie geraakte gemeenskappe.
Die eis volg nadat die munisipaliteit nie gehoor gegee het aan verskeie vorige versoeke van die VF Plus om op te tree nie. Die VF Plus veroordeel die gebrek aan optrede en toesig ten sterkste. Die skade wat aan infrastruktuur aangerig is na die swaar reënval in Januarie 2025, moet as ’n wekroep dien aangesien dit die direkte gevolg was van die munisipaliteit se versuim om noodsaaklike infrastruktuur te onderhou.
Dit het gelei tot groot oorstromings en skade aan verskeie eiendomme. Baie gesinne is kwesbaar gelaat, met water wat hul huise beskadig het as gevolg van geblokkeerde stormwaterstelsels.
Die huidige reënval kan nou verdere skade aanrig aan reeds kwesbare gebiede weens die reeds versadigde grond. Verdere reënval kan lei tot grondverskuiwings en gebiede met swak dreinering kan vinnig oorstroom.
Hoewel ‘n handjievol opruimingspogings waargeneem is, bly hierdie pogings sporadies, onvolledig en grootliks oneffektief. In baie gevalle is spruite slegs gedeeltelik skoongemaak, terwyl rommel en afvalmateriaal soos takke net so gelos is.
Dit skep omgewingsgevare en bied moontlike skuilplekke aan wetsoortreders.
Die VF Plus ontvang toenemend klagtes van inwoners oor veiligheid en misdaad in hierdie verwaarloosde gebiede. Elke dorp verdien toegang tot funksionele infrastruktuur en ’n span wat behoorlik toegerus is om dit te onderhou.
Die VF Plus doen dus ’n beroep op die Govan Mbeki-munisipaliteit om die nodige hulpbronne vir volgehoue instandhouding van dreine, waterweë, sypaadjies en oop ruimtes te verseker. Daar moet dringend ‘n openbare infrastruktuur-instandhoudingskedule en aksieplan opgestel word waarby die betrokke gemeenskappe betrek moet word. Dit kan plaasvind deur deurlopende terugvoer en deelname aan die proses te verseker.
Die VF Plus sal aanhou om die munisipaliteit aanspreeklik te hou totdat hierdie saak ten volle aangespreek is.