Groot dele van Kemptonpark, wat die afgelope dae in duisternis gehul is, is die gevolg van ‘n verouderde oliekragnetwerk wat nie opgradeer of onderhou word nie.
Die onderbreking in die kragnetwerk het op 22 April begin by die Glen Marais-substasie nadat ‘n ritspoel (trip coil) op die elektriese breker uitgebrand het. Die gevolg was dat vyf ander substasies, wat aan die ringnetwerk verbind is, buite werking gelaat is.
Die Ekurhuleni-metro se elektriese departement het nagelaat om dadelik die probleem by die Glen Marais-substasie te isoleer en te herstel.
Die Glen Marais-, Main Supply-, Van Riebeeck-, Cargo-, Aston Manor- en Spartan-substasies is almal hierdeur geraak.
Dié substasies funksioneer steeds met verouderde olietegnologie.
Sekere dele se krag is intussen herstel, maar daar is nog woonbuurte wat deur die onderbreking geraak word.
Indien Ekurhuleni-metro nie sy verouderde olietegnologie-substasies opgradeer nie, kan ‘n totale krag ineenstorting verwag word.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die metro toe te pas om die opknapping van die kraginfrastruktuur te prioritiseer.
Kemptonpark se inwoners sit gereeld in die duister en verdien dit nie.
Die metro kan nie net verskonings aan inwoners stuur nie – daadwerklike optrede is nodig.