Pres. Jacob Zuma se besluit om die minister van finansies, Pravin Gordhan, terug te roep na Suid-Afrika van hul oorsese beleggingstoer, kom op ‘n uiters ongeleë tyd vir die land se ekononie wat vir die eerste keer in ‘n lang tyd verskeie positiewe tekens begin toon het, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus en parlementêre woordvoerder oor finansies.
Alhoewel daar geen duidelikheid is oor die terugroeping nie en daar ook geen amptelike rede hiervoor uitgereik is nie, het dit nogtans die rand soos ‘n slopingsbal getref.
Die geldeenheid, wat vanoggend volgens alle aanduidings op die punt was om die deur die grens van R12,30 teenoor die Amerikaanse Dollar te breek, het feitlik onmiddellik tot byna R12,60 verswak.
Adv. Alberts sê die feit dat die presidensie geen rede vir die terugroeping verskaf het nie, het die deur oopgelaat vir bespiegelings dat ‘n kabinetskommeling op hande is.
“Die moontlikhid dat die toer na Brittanje en later na Amerika nie gemagtig is nie, is bloot nie geloofwaardig nie. So ‘n toer sou vooraf deeglik beplan en goedgekeur moes word deur die nodige strukture.
“Die blote feit dat pres. Zuma tot dusver geen rede verskaf nie, is genoeg rede om die rooi ligte te laat flikker en kom neer op niks anders nie as ‘n doelbewuste benadeling van die ekonomie. Hy moes die gevolge hiervan sekerlik kon voorsien, maar nou word daar oudergewoonte geswyg.
“Daar kan selfs bespiegel word dat mense in die president se dampkring beleggingsposisies teen die rand kon inneem wetende dat die rand sterk sou val na die aankondiging.
“Die groot ironie is egter dat min. Gordhan en sy adjunk Mcebisi Jonas juis op ‘n uitgebreide toer gegaan het om beleggers te lok. Nou het die toer ontaard in ‘n spektakel wat beleggers eerder sal afskrik.
“Wat dit meer tragies maak is die feit dat inflasievoorskouings positief begin lyk het, dat daar goeie nuus oor staatskuld was en dat die rand ‘n sterk lopie beleef het wat volgens kenners juis te danke was aan politieke bestendigheid.
“Wat ook al die rede vir die minister se terugroeping, al hierdie positiewe dinge is in een haal van die bord gevee deur pres. Zuma se uiters ondeurdagte optrede,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403