Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gewone Suid-Afrikaners word nou gestraf weens die buitensporige koste van SEB en korrupsie

Suid-Afrika verkeer in ‘n enorme finansiële krisis met ontoereikende ekonomiese groei en ‘n onvolhoubare begrotingstekort. Dit is egter kortsigtig om te dink dat die verhoging van staatsinkomste deur ‘n belastingverhoging die begrotingstekort daadwerklik sal aanspreek.

Honderde miljarde rande gaan verlore weens die koste verbonde aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat toelaat dat die staat baie meer vir goedere en dienste betaal as wat markverwant is. Die staat en belastingbetalers word uitgebuit as gevolg van SEB.

Belastingbetalers wat reeds oorbelas is mag nie langer gestraf word vir die mislukkings van die verlede, korrupsie, staatskaping en swak beleidsrigtings nie.

Dit is daarom jammer dat die minister van finansies, Enoch Godongwana deurgedruk het met die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW), al is dit met ‘n halwe persentasiepunt. Dié verhoging sal uiteraard wel minder negatiewe gevolge hê as wat die aanvanklike beoogde 2% sou hê.

Die VF Plus staan egter daarby dat enige vorm van ‘n BTW-verhoging sleg is en eerder ekonomiese groei gaan demp. Daar moet eerder belastingverligting wees om volhoubare groei te verseker.

Minister Godongwana is deeglik gewaarsku oor die gevolge van die vorige BTW-verhoging wat gewys het dat die publiek en veral maatskappye reeds oorbelas is en bloot minder bestee met belastingverhogings. Dit lei ook toenemend tot belastingontduiking.

Die ekonomie stagneer, werkloosheid neem toe en die bevolking bly vinnig groei. Die realiteit is dat geld iewers gevind sal moet word.

Daar is vir nou geen ander verhogings soos verhogings van die brandstofheffing nie, maar ook nie enige verligting soos inflasie-aanpassings vir persoonlike inkomstebelasting nie.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat die enigste oplossing volhoubare ekonomiese groei en koste-effektiewe staatsbesteding is.

Die ANC se beleid en verkeerde prioriteite het oor dertig jaar die ekonomie geskaad.

Geld is ook oor die jare op groot skaal gesteel weens korrupsie en vermors op bankrot staatsondernemings.

Daar kan miljarde bespaar word indien die premie wat betaal word vir SEB, gestaak word.

Gewone Suid-Afrikaners betaal die prys vir SEB wat bloot kaderverryking is met opgeblase pryse vir dienste en goedere en wat indruis teen gesonde ekonomiese beginsels.

Die oogmerk van die regering van nasionale eenheid (RNE) is ekonomiese groei en werkskepping. Die VF Plus sal hom daarom as deel van die regering aanhou beywer vir beleidsveranderinge wat dit kan verwesenlik.

Beter beleid is nodig sonder SEB en onteiening sonder vergoeding waar ekonomiese groei gestimuleer word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.