Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staphylococcus-infeksie by 30 mense in Pretoria-Noord gediagnoseer

Die VF Plus in die Tshwane-metro het vanoggend die departement van gesondheid in die metro gewaarsku oor die uitbreek van Staphylococcus-infeksie nadat sowat 30 mense reeds by die Jack Hindon-kliniek in Pretoria-Noord daarvoor behandel is.

Staphylococcus-infeksie word deur ‘n bakterie veroorsaak. Die mees algemene simptome is rooi opgehewe knoppe, sellulitus (velinfeksie) en sere met ʼn etterige afskeiding. Koors kan in meer ernstige gevalle voorkom.

ʼn Bekommerde inwoner het die party geskakel omdat die behandeling by die kliniek nie effektief was nie en infeksies besig is om verder onder mense te versprei. Die mense woon op ʼn kleinhoewe naby Pretoria-Noord.

Tshwane se departement van gesondheid het voorgeneem om dadelik die Gautengse departement van gesondheid in kennis te stel waarna ʼn reaksiespan die voorvalle sal ondersoek.

Staphylococcus-infeksie kan deur kontak versprei word. Mense word aangeraai om hul hande deeglik met water en seep te was, veral nadat hulle aan die aangetaste gedeeltes gevat het.

Moenie handdoeke, waslappe of skeermesse deel nie. Persoonlike higiëne is belangrik. Wonde moet skoon gehou en verkieslik verbind word. Moenie aan wonde krap of sere oopkrap nie.

Mense wat vermoed dat hulle die infeksie het, kan hul naaste kliniek of die VF Plus se raadslid, Rina Marx, by 072 216 4163 skakel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.