‘n Uitgerekte proses van skriftelike vrae en opvolgvrae aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het uiteindelik ‘n prentjie geskets van die departement se planne met “seksuele oriëntasie, genderidentiteit en –uitdrukking en geslagskenmerke" (of SOGIESC volgens die Engelse afkorting).
Die slotsom is dat die departement ‘n eensydig, ideologies gelaaide proses volg om ‘n spesifieke vertolking van die Grondwet as rigtingwyser te gebruik. Terwyl leemtes in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel leerders se toekomstige loopbane kelder, bestee die departement tyd, geld en inisiatief aan ‘n hoogs betwisbare benadering tot genderinsluiting.
‘n Uitgebreide ontleding van die vrae en antwoorde volg, hieronder, terwyl die volledige lys van vrae en antwoorde apart aangeheg word.
In ’n wisseling van vrae en antwoorde tussen die VF Plus en die minister van basiese onderwys wat oor twee maande strek, het ’n beeld ontvou van wat die departement met sogenaamde “genderinsluiting” in openbare skole beplan.
Die storie begin met die organisasie FOR SA (Freedom of Religion South Africa) wat die VF Plus genader het met hul inligting dat daar planne is om verreikende veranderings op hierdie terrein in Januarie 2023 te implementeer. Hulle kry egter nie inligting van die departement nie en versoek parlementêre hulp.
’n Reeks van agt skriftelike vrae en antwoorde sluit af met die belofte dat die VF Plus die “Draft Guidelines” mag sien wanneer raadpleging met interne belanghebbendes afgehandel is. Dan sal dit vir openbare kommentaar beskikbaar gestel word.
Met ander woorde: Die dokument bly ’n geheim; maar implementering begin darem nie komende Januarie nie.
Ons mag reeds weet dat die opstel hiervan in 2021/22 plaasgevind het, met befondsing van Unesco ten bedrae van $15 000 (sowat R270 000).
Deur die loop van die twee maande het die VF Plus wel langs ’n ander kanaal ’n afskrif van die riglyne gekry (slegs ’n harde kopie) en ’n verklaring daaroor uitgereik. Daar is gepoog om reg aan die omvattende aard van die aanbevelings te laat geskied, maar die media het by “unisex” badkamers gebly.
Badkamers is maar ’n onderdeel van ’n dokument wat in wese daarop neerkom dat geslag uit skole verwyder moet word. ’n Werklikheid waarin geslag nie bestaan nie word voorgestel. Skooldrag, voornaamwoorde, aanspreekvorme, leeraktiwiteite en sport mag geslag nie raaksien nie.
Kinders wat mediese prosedure wil ondergaan om puberteit te voorkom, of van geslag te verander, behoort hiervolgens die reg te hê om vanaf twaalfjarige ouderdom daaroor te besluit – sonder verpligte toestemming van ouers. Skole behoort te help om dit moontlik te maak.
Die departement sal met verskillende organisasies saamwerk om inligting oor hierdie hele aangeleentheid aan skole te versprei en hulle te “sensiteer”. Tans word deur provinsiale onderwysdepartemente en distrikskantore gewerk.
Oorweging en insluiting van bydraes sal hopelik teen Maart 2023 voltooi wees, maar eers in Junie 2023 bekend gemaak word. Intussen mag kommentaar tot 31 Desember 2022 na SOGIESC@dbe.gov.za gestuur word. Maar waarop lewer ‘n mens kommentaar sonder die dokument?
Hierdie riglyne is nie op Vroeë Kinderontwikkeling (wat tans van die departement van maatskaplike ontwikkeling na basiese onderwys oorgedra word) van toepassing nie.
Die rede? Sulke sentra neem reeds deel aan ’n doelgemaakte intervensieprogram genaamd “Gender Responsive Pedagogy for Early Childhood Education (GRP4ECE) wat dit deur spelgegronde leer aanpak. Leermateriaal ten bedrae van R20 miljoen is in 2022 deur die ETDP SETA befonds.
Die oorsprong van alles wat hier staan, is die Suid-Afrikaanse Grondwet – of dan, ’n bepaalde lees daarvan. Dit gaan oor die verbod op diskriminasie op grond van ras, geslag en alles anders waarteen gediskrimineer kan word. Die vraag is of hierdie die enigste manier is.
Die minister redeneer dat daar net een manier is – en dit is die manier wat die departement deur sy hoogs selektiewe proses bereik het. Aan die hart van die proses is die departement se eenheid vir “Social Cohesion and Equity and Education”.
Hierdie eenheid het talle opvoedkundige projekte met die hulp van ander organisasies aangepak. Die departement het nie geld van die organisasies ontvang nie, maar hulle wel die ruimte gebied om op eie koste tot die gestelde doel by te dra. Nie alle projekte is op hierdie bespreking van toepassing nie.
Groeperings wat byeengebring is om beleid te help formuleer, is die “Social Inclusion in Education Working Group. Hulle is ’n groep eensgesinde (“like-minded”) organisasies na wie die departement uitgereik het, weens beperkte vermoë binne die departement self.
Daar was wel ’n poging om organisasies wat gesinswaardes voorstaan in te sluit, maar weens uiterste meningsverskille is daarvan afgesien. Aangesien hul stem waardevol en wesenlik is, sal met hulle in gesprek getree word – iets wat na bewering reeds begin het, maar geen besonderhede is verskaf nie.
Die departement se benadering kom daarop neer dat kritiek op sy proses en gevolgtrekkings beteken jy steun die teenoorgestelde. Met ander woorde, as jy nie hiervan hou nie, glo jy kinders wat buite die binêre geslagsopvatting staan, móét afgeknou en uitgesluit word.
Indien daar erns was om ’n oplossing vir die probleem van afknouery en uitsluiting te vind, sou die proses begin by ’n vasstelling van die omvang daarvan. Dan sou ’n ope uitnodiging gevolg het om insette te lewer oor hoe dit oorkom kan word. Skoolbeheerliggame, kerke en ouers sou dan ook ‘n bydra kon lewer.
Die grondwetlike opdrag is gehalte onderrig aan alle kinders. Daarvan kan niemand verskil nie. Wat ons hier vind, is nie ’n poging om die opdrag uit te voer nie, maar wel kaping van onderwys met ’n grondwetlike voorwendsel.