fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus waarsku Lesufi om sy premierskap te geniet, want dit gaan nie lank hou nie

Die VF Plus het vandag tydens 'n debat in die Gautengse wetgewer oor die jaarverslag van die premier se kantoor, die premier, Panyaza Lesufi, gewaarsku dat hy sy tyd as premier moet geniet omdat dit nie lank gaan duur nie.

Dit gaan tydens die nasionale en provinsiale verkiesing van 2024 tot 'n einde kom.

Volgens die VF Plus mag Gauteng ‘n nuwe premier hê, maar die planne is steeds oud en gegrond op die regering se "Growing Gauteng Together: Our Roadmap to 2030"-beleid wat deur die vorige premier geskep is.

Die waarheid is dat ten spyte van die beleid, daar 'n groter wordende gaping is tussen die doelwitte daarin vervat en die werklikheid van gewone mense. Dit werk eenvoudig nie.

Die VF Plus het verder tong-in-die-kies-kommentaar gelewer dat die mense van Gauteng niks het om te vrees nie aangesien Lesufi gaan instorm en als regmaak met sy afskryf van kragskulde, ‘n beplande staatsbank, die Township Ontwikkelingsfonds, hommeltuie en kameras oral om misdaad te bekamp en die vervolging van rassiste solank hulle wit is.

Tog kan die VF Plus nie die onrusbarende gedagtes vermy wat ‘n mens herinner aan die reeds bestaande kultuur van nie-betaling van dienste nie; die bankrot VBS-bank asook die bankrot staatsgeleide Landbank en poskantoorbank; die neerdrukkende sosiale krediet-stelsel van Sjina wat gepolisieer word deur alomteenwoordige hommeltuie en kameras; die gesteelde Covid-19-fondse in Lesufi se departement van onderwys wat herhaal kan word in die Township Ontwikkelingsfonds en laastens die uitstaande tjek van Lesufi wat leerders en ouers gaan wissel wat valslik van rassisme beskuldig was.

Daar kom aanstaande jaar groot regseise teen Lesufi.

Lesufi se bestuursrekord laat veel te wense oor en die VF Plus is seker daar sal geen leierskap wees om die mense van Gauteng saam te bind nie.

Daar gaan eerder aksie wees waar mense opgestel gaan word teenoor mekaar op grond van ras.

Dit terwyl die eerste prioriteit eintlik moet wees om die ekonomie reg te ruk sodat die werkloosheidsyfer drasties kan verlaag.

Ongelukkig is al ekonomiese aksie wat Gauteng sal sien, dié van die ANC-regering wat sy sakke vul.

Daarom sal die 2024-verkiesing so ontvou dat die ANC-regering met minagting verwyder sal word en vervang word met 'n koalisie-regering waarin die VF Plus 'n leidende rol sal speel.

• Lesufi het in reaksie op die VF Plus se stelling dat hy wit mense as rassiste teiken, genoem dat die afskryf van agterstallige krag- en water rekeninge ook vir wittes beskikbaar sal wees. Hulle moet bloot gaan registreer as behoeftiges by hul onderskeie rade.

Die VF Plus beskou dit as n positiewe stap, maar daar moet meer gedoen word om werksgeleenthede te skep sodat mense self kan opstaan uit armoede. Daar moet gewaak word teen die skep van ‘n kultuur van nie-betaling. Die VF Plus sal die proses monitor sodat dit bekostigbaar is en daar geen diskriminasie plaasvind nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.