Die VF Plus wil weet waarom die Gautengse onderwysdepartement ‘n onafhanklike verslag oor ‘n sogenaamde ‘rassevoorval’ by die Hoërskool Jan Viljoen wegsteek.
Die party het vandag die nuwe LUR vir die onderwysdepartement, mnr. MK Chiloane, versoek om ondersoek daarna in te stel.
Chiloane het nie geantwoord nie wat die indruk wek dat die departement en die destydse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, iets het om weg te steek.
Lesufi het voorheen tydens 'n wetgewersitting sy onderneming aan die VF Plus gegee dat die verslag aan die party beskikbaar gemaak sal word. Dit het nie gebeur nie.
Die VF Plus het al talle vrugtelose navrae in dié verband aan die departement van onderwys gerig. Die departement het aanvanklik gereageer deur te sê hy wil eers die verslag bestudeer. Daarna is alle versoeke bloot geïgnoreer.
Die VF Plus het verneem die verslag bevind glo dat geen wit leerder enige rassevoorval by die skool veroorsaak het nie, maar dat 'n sekere politieke party die voorval geskep het.
Die gevolg was dat 'n wit Afrikaner-gesin hul kinders uit die skool moes onttrek en uit Randfontein moes vlug omdat hul lewe in gevaar was.
Die vyandige omstandighede is destyds vererger deur Lesufi wat die dag ná die voorval by die skool opgedaag het.
Hy het tydens 'n toespraak voor meestal swart leerders en ouers 'n wit Afrikaanse leerder by die naam genoem en na hom en sy ma verwys as die skuldiges in die voorval.
Hy het dit gedoen ten spyte van die feit dat geen ondersoek gedoen is nie en in weerwil van sy eie woorde dat die menseregtekommissie (MRK) die voorval moet ondersoek.
Die VF Plus het namens die gesin in die bresse getree en hul weergawe van gebeure saam met getuie-verklarings by die MRK ingedien sodat daar ook 'n bevinding teen Lesufi gemaak kon word.
Verder staan die VF Plus die gesin by om regstappe te neem teen die departement van onderwys en Lesufi.
Dit is nou ook belangrik om die onafhanklike ondersoekverslag onder oë te kry sodat die MRK sy finale bevinding kan maak.
Die VF Plus het reeds skriftelike vrae ingedien om die verslag in die hande te kry. Indien die party verder geïgnoreer word, sal 'n formele aansoek gebring word in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.