Die VF Plus, in samewerking met “We Care”, ‘n afdeling van Lydenburg se sakekamer, plaaslike ondernemings, belanghebbendes en gemeenskapslede, het die afgelope week ’n reeks skoonmaakaksies in Lydenburg geloods.
Hierdie praktiese projekte het gefokus op die herstel van basiese dienslewering en die bevordering van gemeenskapsverantwoordelikheid.
Die aksies het onder meer die omgewing rondom die Estralita School ingesluit, waar inwoners en organisasies saamgewerk het om onwettige storting, swak padtoestande en algemene verwaarlosing aan te spreek. Hierdie verval is ’n duidelike bewys van die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit se versuim om sy verantwoordelikhede na te kom.
Die VF Plus glo dat gemeenskappe nie kan stilbly terwyl dienslewering agteruitgaan nie.
Hierdie projek wys dat wanneer inwoners, organisasies en ondernemings saamstaan, tasbare verandering moontlik is.
Dit stel ’n maatstaf vir die plaaslike munisipaliteit oor hoe ’n dorp in stand en skoon gehou kan word.
Die VF Plus bedank elke vrywilliger, onderwyser, leerder, onderneming en organisasie wat hul tyd en hulpbronne gegee het om Lydenburg weer skoon, veilig en trots te maak.
Terselfdertyd doen die VF Plus ’n ernstige beroep op die munisipale bestuurder, Roy Makwakwa, om verantwoordelikheid te neem vir die verval in infrastruktuur en om volhoubare dienslewering te herstel. Gemeenskappe kan nie alleen die las dra vir swak bestuur nie.
Die VF Plus sal voortgaan om saam met die gemeenskap te werk, druk toe te pas waar nodig, en praktiese oplossings te steun wat die toekoms van Lydenburg beskerm.


