Suid-Afrika het dalk net sy hand oorspeel deur die Amerikaanse ambassadeur Leo Bozell te ontbied om te verduidelik oor sy “ondiplomatieke uitlatings”, onder meer oor hofuitsprake rakende die lied “Kill the Boer”.
Bozell se uitlatings oor die afgelope dae aangaande bilaterale betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika is tewens wyd as positief ontvang.
Hy het onder meer sy optimisme uitgespreek oor die potensiaal vir ‘n sterker handelsvennootskap tussen die lande en het gesê dat samewerking “geweldige groei, stabiliteit en uitgebreide geleenthede” tussen die lande kan ontsluit, tot groot voordeel van Suid-Afrika.
Bozell het die begeerte beklemtoon om konstruktief saam te werk waar gedeelde belange bestaan en het klem gelê op die aantal en waarde van Amerikaanse maatskappye en beleggings in Suid-Afrika en die tienduisende werksgeleenthede wat dit skep.
Hy het dit terselfdertyd duidelik gemaak dat hy met ‘n uitdruklike mandaat na Suid-Afrika gestuur is.
Ook dat die VSA en pres. Donald Trump dit as onaanvaarbaar beskou dat Suid-Afrika nog nie geantwoord het op vyf sleutelvoorwaardes wat vir die normalisering van handelsbetrekkinge tussen die lande gestel is nie.
Die VF Plus se mening is dat die sogenaamde ontevredenheid van Lamola en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) bloot ‘n weerligafleier is vir die Amerikaners se vereistes.
Die VF Plus het ná onlangse besoeke aan die Withuis die VSA se vyf voorwaardes vir die herstel van handelsbetrekkinge tussen die twee lande volledig aan die Suid-Afrikaanse regering oorgedra en kan nie sien waarom dit nou ‘n diplomatieke krisis moet wees wanneer dit herhaal word nie.
Die party onderskryf hierdie voorwaardes ten volle. Dit is billik, verstaanbaar en geen verantwoordelike regering kan volhard met beleid wat sy eie mense benadeel nie.
Die vyf vereistes het betrekking op die Onteieningswet, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), haatspraak met betrekking tot die lied “Kill the boer”, plaasmoord en ‘n hersiening van Suid-Afrika se buitelandse beleid.
Die VF Plus wil dit beklemtoon dat hierdie diplomatieke botsing gesien moet word as ‘n maaksel van die ANC wat Suid-Afrika se ideologies gedrewe buitelandse beleid gekaap het en nieteenstaande vele oproepe van die VF Plus, daarmee volhard.
Suid-Afrika se buitelandse beleid moet ‘n nasionale prioriteit wees, met breë parlementêre toesig en konsultasie om gebalanseerde besluite te verseker in belang van die land en al sy inwoners.


