Die VF Plus is nie verbaas oor onlangse statistiek wat aandui dat 65% van Gautengse regeringsamptenare van posvlakke twee tot agt hulself skuldig maak aan finansiële oortredings nie.
Dit blyk uit ʼn verslag oor finansiële misdrywe wat verlede week voor die Gautengse wetgewer se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gedien het.
Die verslag handel slegs oor vier departemente naamlik gesondheid, onderwys, landbou en e-regering.
Daar kan dus tereg gevra word wat die werklike omvang van finansiële misdaad in die ander departemente is.
Volgens die VF Plus laat topamptenare se nakoming van verantwoordelikheidsbestuur veel te wense oor.
Die Gautengse regering kon slegs daarin slaag om ʼn skamele 8% (R5 088 513.99) uit ʼn totaal van R64 929 684.63 se verlore fondse te verhaal van amptenare wat in die 2021/22-finansiële jaar skuldig bevind is aan bedrog.
ʼn Totaal van slegs 48 strafregtelike sake teen Gautengse amptenare is gefinaliseer, naamlik 25 in die departement van gesondheid, 17 in die departement van onderwys, vier in die departement van landbou en twee in e-regering.
Die 48 gevalle van finansiële misdrywe het ʼn ontstellende totale verlieswaarde van R66 998 422.06 waarvan net R2 068 737.43 beskou word as ‘geen direkte verlies vir die staat’ nie.
Meeste van die verliese kan toegeskryf word aan diefstal (54%), bedrog (25%) en onreëlmatighede met verkrygingsprosesse (13%). ʼn Skrale 2% is toegeskryf aan wanbesteding en net 6% aan nalatigheid.
Dit beteken dat misdadigheid die grootste rede is vir die verlies van fondse in die vier Gautengse departemente onder bespreking.
Daarby moet dit beklemtoon word dat die departement van landbou nagelaat het om enige verslag in te dien wat aandui hoeveel amptenare vervolg word vir finansiële misdrywe.
Dit beteken dat die omvang van gesteelde fondse en amptenare wat hulself verryk deur die staatskas, nog groter moet wees.
Dit blyk ook daar is nie eenvormigheid in die optrede van bestuur teenoor die amptenare wat hulle aan finansiële misdrywe skuldig maak nie.
In een geval is ʼn amptenaar ontslaan en is die volle bedrag van hom verhaal, waar ʼn ander amptenaar slegs ʼn afkoopboete van R5 000 moes betaal.
Dit is ook kommerwekkend dat die bestuur van die departemente nalaat om strafregtelike klagte in te dien teen amptenare wat hul skuldig maak aan bedrog en diefstal waar die waarde die bedrag van R100 000 oorskry.
Statistiek toon dat slegs 19% van alle gevalle aangemeld word vir strafregtelike vervolging.
Dit is dus baie duidelik dat Gautengse staatsamptenare hulself blatant help uit die staatskas tot nadeel van dienslewering aan die groter gemeenskap.
Die tyd het aangebreek om die ANC in Gauteng met die 2024-verkiesing uit die kussings te lig en te vervang met die Veelpartyhandves, waarvan die VF Plus deel vorm, om beter regering te verseker.