Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in Mpumalanga eis antwoorde oor beweerde ontbinding van blitspatrollie-eenheid

Die VF Plus het die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Manamela, versoek om klaarheid te gee oor die bewering dat die hele Witrivier se blitspatrollie-eenheid tydelik ontbind is.

Lede van dié elite eenheid gaan na bewering tydelik na omliggende polisiekantore ontplooi word.

Hierdie verwikkeling volg op die inhegtenisneming van drie lede van die eenheid, wat na bewering betrokke was by transitorooftogte en OTM-ontploffings in Mpumalanga. Twee van hulle is verlede week aangekeer en die derde, wat gevlug het, het homself oor die naweek oorgegee.

Die VF Plus het navraag oor die eenheid se beweerde skorsing gedoen by die provinsiale polisiewoordvoerder, brigadier Selvy Mohlala, maar het teen die skrywe hiervan nog nie ʼn antwoord ontvang nie.

Indien dit wel so blyk te wees, is dit ʼn uiters kommerwekkende situasie en wys dit hoe diepgewortel ernstige misdadigheid in die polisie is. Die afwesigheid van hierdie eenheid sal ook ernstige gevolge inhou vir wetstoepassing in die gebied, veral wat transitorooftogte aanbetref.

Die eerste twee lede is verlede week aangekeer ná ‘n skietgeveg en hoëspoed-jaagtog met kollegas. Daar is glo ʼn aantal onwettige vuurwapens gevind in die blitspatrollie-voertuig waarmee hulle weggejaag het.

Luidens mediaberigte is agt gewere, twee pistole, asook plofstof in die voertuig gevind. Die inhegtenisneming volg slegs ‘n paar dae nadat R8 000 tydens ‘n transitorooftog buite Malalane gesteel is.

Alhoewel die VF Plus die inhegtenisnemings verwelkom, is dit kommerwekkend om geen blitspatrollie-eenheid op die berugte transitorooftog-roetes tussen Witrivier en Hazyview te hê nie.

Die polisie sal onverwyld moet optree om ‘n tydelike gebeurlikheidsplan op daardie roetes in werking te stel.

Polisiekorrupsie kan nie langer geduld word nie. Twee weke gelede is ‘n verkeerspolisielid van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit ook in hegtenis geneem weens haar beweerde betrokkenheid by transitorooftogte.

Dit is onaanvaarbaar dat polisielede by misdaad betrokke raak en die VF Plus sal wil sien dat hulle die swaarste strawwe moontlik opgelê word.

Die ANC-regering het ’n tendens van korrupsie met eie reg en straffeloosheid geskep wat verskans geraak het in die samelewing.

Die politieke wil en toewyding om korrupsie te beveg moet op hoogste vlak in die regering begin. Slegs ‘n verandering van regering in 2024 sal dit vermag.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.