Die VF Plus het die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) versoek om dadelik die Kroningspark tydelik te sluit nadat ʼn rioolpyp in die park gebars het.
Die Kroningspark is ʼn gewilde kuierplek vir inwoners met braai- en piekniekgeriewe.
Die riool vloei reeds oor die jukskeibane en langs die Krugersdorp-jukskeiklub se klubhuis verby. Lede van die klub kom gereeld naweke bymekaar om dié sport te beoefen.
Die riool vloei vandaar in ʼn sloot wat afgevoer word na ʼn spruit.
Die VF Plus het die munisipaliteit versoek om so spoedig moontlik met herstelwerk te begin en die park skoon te maak.
Die rioolstorting hou nie net ʼn gesondheidsrisiko in vir inwoners nie, maar ook vir die omgewing.
Die VF Plus doen intussen ʼn beroep op inwoners om die park te vermy tot die rioolprobleem opgelos is.


