(Begrotingsdebat oor Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid)
Die VF Plus het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, versoek om ʼn toegewyde lid van die wetgewer as die LUR vir gemeenskapsveiligheid aan te wys.
Lesufi beklee tans beide poste wat nie wenslik is nie gesien in die lig van die hoë misdaadsyfer in Gauteng. Beide die poste vereis aansienlike strategiese aandag, betrokkenheid van belanghebbendes en praktiese monitering.
Die VF Plus het die volgende brandpunte uitgewys oor waarom die poste geskei moet word:
• Beperkte vermoë: Om beide komplekse portefeuljes suksesvol te bestuur, verg aandag, tyd en energie. Dit is onwaarskynlik dat een persoon die nodige diepte en betrokkenheid aan beide kan wy.
• Toesig en aanspreeklikheidstekorte: Die premier se primêre verantwoordelikhede maak dit moeilik, indien nie onmoontlik nie, om gereeld portefeuljekomitee-vergaderings by te woon.
• Dié vergaderings is belangrik vir ʼn gedetailleerde begrotingsondersoek, die bevraagtekening van departementele prestasies en om die LUR en die departement aanspreeklik te hou.
• Verminderde ondersoeke: As die premier ook die LUR is, word die wetgewende toesigfunksie inherent swakker. Wie hou die LUR wat ook die premier is op dieselfde streng manier aanspreeklik?
• Botsende belange: Daar is potensiaal vir botsende belange of ten minste ʼn persepsie daarvan. Die premier moet toesig oor die hele provinsie hou sowel as oor die LUR’e.
• Verlies aan toegewyde fokus: Gemeenskapsveiligheid verg ‘n toegewyde fokus op komplekse kwessies soos polisiegedrag, doeltreffendheid van die strafregstelsel, gemeenskapsverhoudinge en ingewikkelde misdaadvoorkomingstrategieë.
• Openbare persepsie en vertroue: In ‘n provinsie met hoë misdaadsyfers en openbare wantroue in wetstoepassing, is openbare vertroue noodsaaklik. ‘n Toegewyde LUR is daarom noodsaaklik om alle uitdagings aan te pak. Indien die portefeulje as ‘n sekondêre rol vir ‘n reeds oorbelaste premier beskou word, kan dit openbare vertroue verder laat versleg.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid het ʼn beduidende taak om bewerings van korrupsie, omkopery en swak werksetiek hok te slaan en te ondersoek. Dit kan nie gebeur as Lesufi beide die pos van premier en LUR van gemeenskapsveiligheid beklee nie.
Die VF Plus sal druk op Lesufi toepas om die twee rolle te verdeel om seker te maak dat die nodige aandag aan beide belangrike portefeuljes gegee word.


