Vaalwater het uiteindelik ná volgehoue druk van die VF Plus weer ʼn bakkie met brandtoerusting tot sy beskikking.
Die VF Plus se raadslede in die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit, Neels Pretorius en Johan Prinsloo, asook die party se raadslid in die Waterberg-distriksmunisipaliteit, Karel Niewenhuis, het sedert 2023 voortdurend die behoefte aan brandbestrydingstoerusting vir Vaalwater onder die onderskeie munisipaliteite se aandag gebring.
Daar was altyd ʼn satelliet-brandweerstasie op Vaalwater, maar die munisipaliteit het die bakkie en brandbestrydingstoerusting ʼn paar jaar gelede verwyder.
Die verantwoordelikheid vir die blus van brande het vandaar 100% op die gemeenskap se skouers gerus. Hulp wat soms vanaf Nylstroom gestuur is, het gewoonlik laat opgedaag en soms sonder water.
In dié tydperk het verskeie wooneenhede, vakansieoorde en weiding afgebrand.
Die VF Plus het in samewerking met die plaaslike burgerlike organisasie, Rural Safety, struikelblokke soos ʼn brandstofkaart en bekwame bestuurders uit die weg geruim waarna die brandweerhoof, mnr. Dan Mokonyama, ingestem het om die bakkie en toerusting terug te stuur na Vaalwater.
Mnr. Jan Botha, die bestuurder van Rural Safety, het die verantwoordelikheid vir die onderhoud en toesig van die toerusting aanvaar.
Daar word gehoop om binne die afsienbare toekoms ‘n volledige brandweerstasie op Vaalwater te vestig.
Hierdie oorwinning van die VF Plus is ʼn bewys dat indien die politieke wil bestaan om ’n gemeenskap by te staan, ’n politieke party dit wel kan vermag.


