(Begrotingsdebat: Presidensie)
Die VF Plus is sedert sy ontstaan in 1994 deel van die parlement en sy benadering was nog altyd konstruktief en positief. Dit sal so voortgaan omdat oplossings gevind moét word om ‘n beter toekoms vir almal in die land te verseker.
Dit help daarom nie dat pres. Cyril Ramaphosa goeie voorstelle om vooruitgang te verseker, afkraak en selfs as rassisme afmaak nie. Suid-Afrika het onder die ANC misluk en dit kan nie so voortgaan nie.
Dit is die kern van die boodskap van dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, vandag aan pres. Cyril Ramaphosa met die begrotingsdebat van die presidensie. Die volledige toespraak volg hiernaas:
“Die VF Plus glo dat oplossings vir die land se uitdagings gevind moet word om ‘n blink toekoms vir ons kinders en kleinkinders te skep en om Suid-Afrika ‘n suksesvolle wenland te maak. Dit sluit ‘n toekoms vir die Afrikaner sowel as elke ander minderheidsgroep in.
In u (die president) antwoord op my opvolgvraag tydens die vorige vraetyd het u gesê: “Die GNU gaan baie ure en dae daaraan bestee om die ekonomiese strategie en trajek wat ons moet volg, te bespreek.” Die tyd om dit te doen is nou.
Drie spesifieke vrae is aan my gerig wat ek nie kon antwoord nie, maar ek doen dit nou. Eerstens of swart mense steeds die rol van arbeiders en verbruikers moet speel. Die antwoord is ‘n duidelike, onomwonde nee.
Tweedens waarom swart mense nie ook mag deel in die winste van die ekonomie nie. Natuurlik kan en behoort hulle. Dit is in almal se beste belang.
Derdens waarom swart mense nie ook ryk kan wees nie. Natuurlik kan hulle, en sommige is reeds uitermatig ryk. Nogtans sukkel die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners steeds om geldelik te oorleef.
Prof. William Gumede van Wits se Skool vir Regeerkunde het onlangs in hierdie verband gesê dat, konserwatief bereken, R1 triljoen sedert 1994 tussen minder as 100 polities goed gekonnekteerde mense verskuif is. Dieselfde mense is oor en oor bemagtig en herbemagtig. Dit is nie swart ekonomiese bemagtiging nie.
U het ook verwys na die geskiedenis van die Afrikaner toe gehandel moes word met die uitdaging van groot armoede. U siening dat dié krisis opgelos is bloot omdat Afrikaners die begunstigdes van apartheid en voordelige wetgewing was, is egter verkeerd.
Die Carnegie-verslag van 1939 (elf jaar voordat die NP in 1948 aan bewind gekom het) het ‘n sentrale tema gehad, naamlik dat staatshulp afhanklikheid skep.
Hoe omvattender die maatskaplike sekuriteitsnet van die staat, hoe groter die afhanklikheid. Daarom was die Afrikaner-uitgangspunt: “’n Volk red homself” en “Ons sal self”. Ons het dit toe gedoen, en doen vandag weer self.
Dit het gelei tot Afrikaner-eie-instellings soos die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings. Santam, Sanlam, Volkskas en vele ander.
Die ANC se benadering sedert 1994 was egter die teenoorgestelde. Nie ‘ons sal self’ nie, maar die staat moet. Verlede week het die minister van maatskaplike ontwikkeling (Sisisi Tolashe) gesê 45% van alle Suid-Afrikaners is afhanklik van maatskaplike toelaes. Dit sluit nie NFSAS in nie.
Van haar totale begroting van R294 miljard word R290 miljard aan maatskaplike toelaes bestee. Dit is nie volhoubaar nie.
Die kern van die land se krisis is die obsessie met gelykheid van uitkoms, terwyl die res van die wêreld slegs gelykheid van geleenthede verstaan.
Gelykheid van geleenthede bemagtig almal terwyl gelykheid van uitkoms verslaaf, want dit vereis voortdurende maatskaplike manipulering, beheer, kwotas, konfiskering en dwang.
Vir stabiliteit en ‘n goeie toekoms glo die VF Plus dat swart, wit, bruin en Indiërs ekonomies moet vorder. Maar ná 30 jaar toon die feite dat die huidige ekonomiese beleid misluk.
Moet daarom nie voorstelle wat dit kritiseer en beter oplossings voorstel as rassisme afmaak nie. Die VF Plus is gereed om sy rol te speel en na die tafel te kom om van Suid-Afrika ‘n wenland vir almal te maak.


