Die VF Plus het die Gautengse departement van gesondheid tereggewys vir sy lomp poging om kliniek-dokters uit diens te stel en te herkontrakteer as diensverskaffers, terwyl daar ‘n wesenlike tekort aan dokters by klinieke en hospitale bestaan.
Die VF Plus het tydens die Gauteng-wetgewer se debat oor die 2025/26-begroting van die departement sy misnoeë uitgespreek oor hoe mediese praktisyns behandel word terwyl hulle die voorste linie uitmaak van mediese sorg, veral vir arm persone wat nie privaat mediese dekking het nie.
Die departement is vroeër ontbloot nadat hy dokters wat werksaam was by klinieke regoor Gauteng en wie se kontrakte verstryk het, nie wou heraanstel as werknemers nie.
Die departement het skielik vereis dat die dokters maatskappye oprig waarmee die departement hulle sou kontrakteer. Die nuwe vereistes was uit die bloute informeel aan die dokters gekommunikeer deur SMS-boodskappe.
Daar was geen poging van die departement om eers met die dokters te konsulteer nie.
Die VF Plus het skriftelike vrae hieroor gerig aan die LUR vir gesondheid, Nomanto Nkomo-Ralehoko. Sy het in haar antwoorde erken dat geen konsultasie met die dokters plaasgevind het nie en dat die vertraging van die nasionale en provinsiale begrotings veroorsaak het dat die stappe geneem is.
Die vertraagde begrotings sou egter uiteindelik realiseer en daarom was dit roekeloos van die departement om die stappe te neem.
Intussen het van die dokters ‘n hofbevel gekry om weer by klinieke aangestel te word.
Die VF Plus betreur dit dat die publiek skielik nie dokters by klinieke kon raadpleeg nie, maar is verlig dat die status quo nou herstel gaan word.
Die party het ook talle ander kwessies aangespreek, soos vermiste pasiënt-lêers in hospitale, swak infrastruktuur soos lekkende dakke, gebrekkige toiletgeriewe en klein konsultasiespasies. Daar is ook ‘n wesenlike tekort aan basiese voorraad soos linne en voedsel.
Hierdie kommerwekkende situasie word vererger met die vermindering van 9,9% in die begroting vir geriefbestuur. Daar is voortdurende tekorte aan noodsaaklike voorrade, van linne tot gespesialiseerde voedsel vir pasiënte, wat die kwaliteit van sorg direk beïnvloed.
Die VF Plus beveel aan dat die departement begin gebruik maak van tegnologie ten einde die rompslomp en tekorte in die stelsel aan te spreek.
Tekorte aan dokters kan aangespreek word deur ‘n provinsiale telemedisynestelsel wat dokters in staat stel om konsultasies te doen en raad te gee in gevalle waar ‘n fisieke teenwoordigheid nie nodig is nie.
Wat die bestuur en betaling van diensverskaffers betref, kan gebruik gemaak word van ‘n blokketting-gegronde betalingstelsel wat outomaties betaal sodra dit bewyse ontvang van afgehandelde dienslewering soos gemeet aan opgestelde kriteria.
Hoe minder mense werk met administratiewe aspekte, hoe minder sal swak dienslewering en onreëlmatige besteding word.
Die VF Plus is tevrede dat die dokters by klinieke binnekort weer aangestel sal word en dat die party ‘n rol kon speel om die situasie te beredder.
Die departement van gesondheid het egter nog baie skaafwerk nodig en daar sal die party sy oorsigrol bly speel.


