Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse departement van paaie en vervoer maak slaggate op R28 reg ná druk van VF Plus

Die VF Plus se herhaaldelike versoeke die afgelope jaar aan die Gautengse wetgewerskomitee oor paaie en vervoer vir die herstel van slaggate op die R28 tussen Krugersdorp, Randfontein en Westonaria, het vrugte afgewerp.

Verskeie spanne van dié departement het Vrydag veral aan die gedeelte van die R28 vanaf Mohlakeng en Westonaria gewerk om slaggate te vul.

Rioolwater wat jare lank op die padreserwe vanaf Mohlakeng vloei en uiteindelik in die Donoldsondam beland, word ook herlei.

Die rioolwater vloei vanuit die Donoldsondam deur spruite en klein riviere na die Mooirivier in Potchefstroom.

Die rioolwater het deur die jare die padoppervlakte beskadig en groot slaggate gevorm.

Die VF Plus het ook die betrokke komiteevoorsitter, Jacob Mamabolo, versoek om ondersoek in te stel na die infrastruktuur in Mohlakeng wat nie die groot hoeveelhede riool kan hanteer nie en gereeld gebarste pype veroorsaak.

Die besoedelde water vorm ‘n natuurlike vleiland voor die Donoldsondam waar dolomietiese grondformaat voorkom.

Werkerspanne het ook aan die N14 vanaf Krugersdorp/Brandvlei/Ventersdorp gewerk waar die Krugersdorp/Carletonville-kruising met ‘n meter aan beide kante verbreed is.

Dit is om te sorg dat swaar vragmotors makliker in die kruising kan draai. In die verlede moes die verkeer stop om dié vragmotors ‘n geleentheid te gee om te draai. Slaggate is ook herstel.

Die herstelwerk aan die N14 en R28 is deur provinsiale wetgewerslede en raadslede van die Wes-Rand-distrikmunisipaliteit bygewoon.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die Gautengse regering om sy plig teenoor padgebruikers en inwoners na te kom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.