(Debat in Gauteng-wetgewer oor jaarverslag van Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling)
Die VF Plus beskou die Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling as van kardinale belang om 'n gesonde omgewing te skep vir ekonomiese groei, werkskepping en maatskaplike ontwikkeling. Daarom vind die VF Plus dit teleurstellend dat die departement faal om hierdie doelwitte na te kom en lê die swak prestasie voor die deur van die ANC.
Deel van die redes vir die swak prestasie om die Gautengse ekonomie in 2019/2020 te groei is te vinde in die swak ondersteuning wat die departement aan klein- en mediumgrootte ondernemings gegee het. Dit is welbekend dat klein ondernemings die meeste werksgeleenthede skep en daarom is die gebrek aan ondersteuning 'n hou in die maag van alle werkloses.
Verder het die departement nie genoeg gedoen om plaaslike en buitelandse beleggings te verseker nie. Die ekonomie, wat alreeds deur die ANC beskadig is nog voor die Covid-19-pandemie die provinsie getref het, sal nie gesond word sonder eksterne beleggings nie.
Daarby het die departement sy eie begroting met R79 miljoen onderbestee wat gebruik kon word om werkloosheid aan te pak.
Die VF Plus beskou die swak prestasie van die departement ongelukkig as tipies van die ANC se swak regeerstyl met min hoop dat dit noodwendig sal verander.