Die Gautengse aansuiweringsbegroting wat die LUR vir finansies, Lebogang Maile, gister aangekondig het, dui op ʼn provinsie wat onder geweldige finansiële druk verkeer.
Die LUR het erken dat minder befondsing van die nasionale tesourie (NT) ontvang is en dat maatskaplike dienste en regeringsprogramme daardeur geraak word.
‘n Volle 27% van Gauteng se inwoners leef onder die armoededrempel. Daarby is die werkloosheidsyfer onder jong mense ‘n enorme 40%.
Alhoewel die ANC-minderheidsregering die skuld vir dié swak ekonomiese toestand probeer pak op eksterne gebeurtenisse soos kolonialisme, imperialisme, neoliberalisme, die 2008-ekonomiese resessie en die Covid-19-pandemie, is die waarheid eerder dat die achilleshiel van die Gautengse ekonomie die ANC self is.
Die LUR het ironies sy toespraak begin deur te verwys na die film “Troy”, gegrond op die Griekse mitologie, waarin die vraag gestel word of mens se dade deur die eeue sal eggo.
Die LUR probeer hierdeur voorgee dat die ANC-minderheidsregering se reaksie op die eksterne gebeure korrek is en dat die beste beleid en wetgewing as reaksie hierop geïmplementeer word.
Tog vergeet Maile te gerieflik van die ANC se eie ernstige tekortkominge en aandeel in die skep van die gefaalde ekonomie in Gauteng wat die werklike achilleshiel van die provinsie is.
Gedurende die jare lange regering van die ANC in die provinsie sedert 1994, het plaaslike en buitelandse beleggings met tyd afgeneem en so ook gesonde ekonomiese bedrywighede.
Die verminderde begroting vanaf die NT dui daarop dat daar nie staat gemaak kan word op die staat en die fiskus om ‘n regering daar te stel wat vir almal moet sorg van die krip na die graf nie.
Die feit dat die provinsiale regering net 5% van sy eie inkomste genereer, dui op die interne beperkings wat die provinsiale regering in die gesig staar.
Daarby moet die provinsiale regering boonop ekstra skuld delg weens die 30% e-tolrekening wat die NT oorgedra het na Gauteng.
Aangesien dit die nasionale regering en Sanral was wat die e-tolprojek van stapel gestuur het, behoort die skuld die nasionale regering se verantwoordelikheid te gebly het en het die premier, Panyaza Lesufi, gefouteer om enige skuld op die provinsie se skouers te neem.
Die enigste bewese uitweg wat vir die regering bestaan, is die skep van ‘n geskikte omgewing vir plaaslike en buitelandse beleggings in die provinsie.
Daar is inderdaad baie potensiaal vir sodanige beleggings, maar dan moet arbeids- en swartbemagtigingsvereistes deur die nasionale regering versag word en korrupsie ernstig aangespreek word deur beide die nasionale en Gautengse-regerings.
Heelwat internasionale maatskappye staan gereed om te belê, maar wag vir die ANC-minderheidsregering om positiewe seine van deregulasie en wetstoepassing te stuur.
Gauteng se geprojekteerde ekonomiese groei vir 2024 blyk ‘n powere 1% te wees, terwyl groei van tussen 5%-6% nodig is om werkskepping te realiseer wat die werkloosheidskoers drasties sal afbring. Daarom is wesenlike beleggings nodig om as katalisator vir ekonomiese aktiwiteite te dien.
Die VF Plus se plan is juis om die tipe beleggings moontlik te maak en is tans in gesprekke met die Gauteng-regering om ‘n meer gunstige omgewing te skep vir beleggers.


