Die VF Plus steun die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se besluit om beslissende stappe te neem teen inwoners wat doelbewus met kragmeters peuter om krag te steel.
Hierdie onwettige gedrag plaas ʼn reuse finansiële las op eerlike betalers.
Die NMBM het die afgelope finansiële jaar R800 miljoen verloor weens gemanipuleerde kragmeters.
Om die sowat 171 000 gekompromitteerde meters te vervang, sal R482 miljoen beloop.
Die VF Plus glo dat inwoners wat hulself skuldig maak aan die manipulering van kragmeters, pa moet staan vir die vervanging daarvan.
Die metro moet ook boetes en selfs strafregtelike vervolging inspan om as afskrikmiddel te dien vir die diefstal van krag.
Verder moet konvensionele meters met peuterbestande slimmeters vervang word.
Kragdiefstal is nie ʼn slagofferlose misdaad nie. Dit raak elke inwoner en onderneming en ontneem hulle van effektiewe dienslewering.