Die VF Plus het met ʼn oorsigbesoek aan al die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se munisipale voertuigdepots miljoene rand se diensleweringsvoertuie gevind wat al vir jare staan en vergaan.
Die party het ná vele klagtes van munisipale werkers dat hulle hul eie voertuie moet gebruik of geld bymekaar moet sit vir brandstof vir ʼn munisipale voertuig om diensleweringsklagtes op te los, die voertuigdepots besoek.
Die Munelek-, Deal-Party- en Uitenhage-depots is besoek.
Honderde voertuie wat wissel van metropolisie-voertuie, skrapers, vullisverwyderingstrokke, bakkies, kombi’s en sedanmotors is aangetref.
Voertuie wat vir geringe probleme soos ʼn pap motorband herstel moes word of geringe skade in ʼn ongeluk opgedoen het, staan nou en vergaan of word gestroop van parte.
Verder is gevind dat die metro geen korrekte rekord hou van presies hoeveel voertuie en watter tipe voertuie op sy bateregister is nie.
Die onderskeie departement verskuif die blaam vir die haglike toestand van die munisipale voertuigvloot bloot van een direktoraat na die volgende.
Die VF Plus het die munisipale bestuurder, me. Noxolo Nqwazi, gevra vir ʼn volledige ondersoek na die metro se voertuigvloot. Die party het ook die metro se komitees vir openbare rekeninge en vir paaie en vervoer gevra om die saak te ondersoek.
Die metro het oor die jare miljoene rand verloor weens die praktyk om voertuie wat geringe herstelwerk benodig, basies op die ashoop te gooi.
Dié voertuie kon aangewend gewees het om dienslewering aan die NMBM se nagenoeg 1,2 miljoen inwoners te verbeter.