Die minister van polisie, Fikile Mbalula, kan nie skuil agter die beginsel van die reg op privaatheid oor die beweerde R680 000 wat Sedgars Sport einde verlede jaar glo aan hom en sy gesin betaal het vir ‘n vakansie van ses nagte in die Atlantis-hotel in Dubai nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê indien dit waar is, sou dit ‘n ernstige botsing van belange daarstel en moet Mbalula dit erken en as minister van polisie bedank.
Hy sê daar moet ook vasgestel word of die beweerde skenking verklaar is in die ledebelange-register van kabinetslede en indien dit nie gedoen is nie, moet daar ook teen hom opgetree word.
“Hoewel Mbalula minister van sport was toe die voorval glo plaasgevind het, laat dit ruimte vir korrupsie aangesien Sedgars Sport sake gedoen het en steeds doen met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok). Sedgars was ook die verskaffer van die Suid-Afrikaanse Olimpiese span se sportuitrusting.
“In die betrokke geval kan dit op die minste die indruk wek dat dit omkoopgeld geld was. As minister van polisie moet Mbalula bo verdenking wees ten opsigte van enige vorm van korrupsie.
“Dit is daarom belangrik dat hy moet bevestig of dié bewerings korrek is of nie. Indien dit waar is dat hy wel die private skenking ontvang het, skep dit ‘n onbehoorlike risiko, en behoort hy sonder meer as minister van polisie te bedank,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216