Krugersdorp-Wes het onder die oë van inwoners en besighede in 'n vrot vullishoop verval, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid in Mogale City.
“Wat eens 'n woonbuurt met sy eie unieke karakter was, het die laaste paar jaar stadig maar seker in 'n vullishoop verval ondanks klagtes van inwoners en raadslede.
“Munisipale regulasies wat sekere besighede in die omgewing van skole, kerke en eetplekke verbied, word deur die munisipaliteit self ondermyn.
“Reg langs 'n gelisensieerde eet- en kuierplek is toestemming gegee vir die sorteer van vullis en skrootmetaal.
“Die industriële areas in Krugersdorp is besig om spookdorpe te word omdat daar desondanks duidelike voorskrifte en regulasies, toegelaat word dat besighede wat voorheen tot Chamdor, Boltonia en Delporton beperk was, nou op elke ander hoek langs winkels, eetplekke, apteke en publieke vermaakbesighede oopmaak.
“Dit is veral die twee skrootwerwe naby mekaar in Krugersdorp-Wes wat beide naby eetplekke, die apteek met kliniekdienste en 'n besigheid wat voedsel verwerk is, wat tot groot kommer spreek.
“By beide die skrootwerwe, waarvan die een reeds jare op die perseel is, het die toename van individue wat al meer skroot kom verkoop, 'n probleem vir voetgangers sowel as padverbruikers in die besige straat geword. Daar word ook gereeld klagtes oor rotplae en besoedelde water wat in die straat uitloop ontvang.
"In die algemeen lyk groot dele van Krugersdorp onversorg en vervalle. Dinge gaan stelselmatig agteruit en belastingbetalers sien nie dat die nodige onderhoud gedoen word in hulle dorp nie.
“Die portefeuljekomitees wat na die kwessies moet omsien het almal dieselfde verskoning – daar is nie geld nie.
“Die realiteit is, Mogale City is finansieel kniediep in die moeilikheid en daar is nie fondse om die mees basiese toerusting aan te koop of broodnodige tegniese personeel aan te stel nie. Daar is heelwat beloftes maar ongelukkig geen lig in die tonnel of volhoubare plan op die tafel nie, sê De Lange.
Kontak : 071 604 9498