Die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut (Sanedi) staan aan die stuur van 'n proses wat daarop mik dat elke groot gebou binne sekere kategorieë oor 'n Energieprestasiesertifikaat (EPC) moet beskik.
Terwyl die idee goed is, sal die spertyd van 12 Desember 2022 vir talle eiendomsbestuurders moeilik wees om te haal.
Sanedi se aandeelhouers is die departemente van minerale hulpbronne en energie, sowel as wetenskap en innovasie. Daarom het die VF Plus 'n brief gestuur aan elk van die ministers, onderskeidelik mnr. Gwede Mantashe en dr. Blade Nzimande, om te versoek dat die spertyd uitgestel word.
Staatsgeboue van meer as eenduisend vierkante meter en private geboue van meer as tweeduisend vierkante meter (hoër- en laerskole uitgesluit) moet oor hierdie sertifikaat beskik.
Dit behels dat 'n geakkrediteerde konsultant 'n opname maak van die jaarlikse energieverbruik in die gebou, alle bronne ingesluit. 'n Plan vir verhoogde doeltreffendheid moet dit vergesel.
Indien die dokumente aan Sanedi se vereistes voldoen, word 'n sertifikaat uitgereik wat vir vyf jaar geldig is. Hierdie sertifikaat moet by die ingang van die gebou aangebring word. Versuim om hieraan te voldoen, kan tot 'n boete of selfs tronkstraf lei.
Die VF Plus stem saam dat energietekorte sowel as die klimaatverwante gevolge van vermorsde energie teengewerk moet word en dat doeltreffende energieverbruik in groot geboue 'n belangrike bydrae kan lewer.
Die probleem is egter dat hierdie vereiste, wat in Desember 2020 in die staatskoerant geadverteer is, nog grootliks onbekend is.
Bowendien vereis die sertifikaat gespesialiseerde werk van energiekonsultante wat reeds nie volop is nie. Selfs as daar vandag 'n groot bewusmakingsveldtog geloods word, is die twee maande voor die spertyd eenvoudig te kort om algemene voldoening te verwag.
Die VF Plus versoek die twee ministers dus om die spertyd uit te stel en 'n geleidelike implementering daarvan toe te laat.
Korporatiewe eiendomsbestuurders sal waarskynlik die maklikste toegang tot geakkrediteerde konsultante kan bekom. 'n Skedule waarvolgens hierdie groot ondernemings hulle sertifikate kan bekom, behoort met Sanedi beding te word.
Kleiner ondernemings, wat slegs enkele geboue besit of bestuur, kan langer tyd kry om die taak af te handel, aangesien hul bedingingsvermoë meer beperk is.
Die VF Plus is 'n party wat aan 'n ordelike samelewing glo. Dit behels onder meer dat sinvolle wetlike vereistes deeglik bekendgestel moet word en dat dit moontlik moet wees om daaraan te voldoen.
Onhaalbare spertye lei tot gebrek aan voldoening, waarteen die owerheid op sy beurt nie kan optree nie; en uiteindelik 'n ordelose samelewing.
Die ministers se terugvoer word afgewag in die hoop dat 'n krisis met proaktiewe optrede afgeweer sal word.