fbpx
Vryheidsfront Plus

Upington se water: Toetsing van kraanwater toon tans geen gevaarlike besmetting nie

Die uitslag van watertoetse in die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit (Mier, Rietfontein, Upington, Louisvale en omgewing) wat die VF Plus verlede week by 'n nasionale patologiese laboratorium laat doen het, wys dat die getoetste monsters kraanwater gedrink kan word sonder vrees vir bakteriese besmetting.

Die toetse wys Upington se kraanwater bevat 'n Coliform bakteriese telling van 0. Geen E. coli of fekale coliforme bakteriese telling is waarneembaar nie.

Die VF Plus het talle navrae gekry na aanleiding van mediaberigte dat drinkwater in Upington bakteries besmet is.

Op navraag het die munisipaliteit volgehou dat die water veilig is vir menslike gebruik, waarop die VF Plus besluit het om self toetse te laat doen.

Watermonsters is by vyf drinkwaterkrane verspreid oor die dorp geneem en na 'n bekende nasionale patologiese laboratorium vir toetse geneem.

Die toetsmetode wat gevolg is, word deur die laboratorium aangegee as "SANS 5221 Colilert (T0498)" en "SANS 5221 Membrane Filtration (T0654)”.

By die toets vir ‘Totale Coliforme bakteriese telling’ is die toegelate telling minder as 10 per 100ml. By die toets vir E. coli of fekale coliforme besmetting mag daar geen teenwoordigheid wees nie.

Die feit dat nie een van die toetse bakteriese besmetting kon optel nie, dui daarop dat watersuiwering in Upington tans op standaard is en dat kraanwater gedrink kan word.

Oop waterbronne moet egter vermy word, omdat niemand kan waarborg dat besmetting daarvan voorkom kan word nie.

Inwoners moet dus nie bloot oordeel dat kanaalwater skoon "lyk" nie, omdat dit steeds besmet kan wees en maklik besmet kan word.

Die VF Plus hou die munisipaliteit vir al sy funksies verantwoordbaar, veral waar dit by inwoners se veiligheid en gesondheid kom.

Terselfdertyd wen niemand met ongegronde vrese nie. Water moet daarom gereeld getoets word, veral deur instansies wat onafhanklik van die munisipaliteit is.

Met gereelde en betroubare inligting kan inwoners self besluit of dit nodig is om gebottelde water te koop.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.