Die VF Plus verwelkom die ontplooiing van spesialis polisie-eenhede om kabeldiefstal in Noordwes te ondersoek.
Die VF Plus het vandag tydens ‘n ministeriële voorlegging in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oor die skaal en impak van die vernietiging en diefstal van openbare infrastruktuur, die versekering van die polisie se ministeriële afvaardiging ontvang dat hierdie eenhede eersdaags in die provinsie ontplooi sal word.
Genl. Maropeng Mamotheti het namens die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, gesê dat hierdie eenhede ook spesifiek aandag sal gee aan die vernietiging en diefstal van Eskom-infrastruktuur in die gebied tussen Lichtenburg en Ventersdorp.
Hierdie gebied loop lank reeds deur onder grootskaalse kragonderbrekings weens goed georganiseerde kabeldiefstal. Boere en sakelui het al groot finansiële verliese weens die onderbrekings gely.
Dit is duidelik dat kabeldiefstal-sindikate die gebied geteiken het.
Kilometerlange kraglyne en selfs hoogspanningsdrade word gereeld deur goed toegeruste misdadigers gesteel. Swaarvoertuie word gebruik om die tonne draad weg te voer.
Die ontplooiing van die spesialis-eenhede volg op herhaalde versoeke tot ingryping deur die VF Plus die afgelope jaar.
Die VF Plus sal die situasie en vordering met die ondersoeke bly monitor.