Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emfuleni onregverdig teenoor inwoners met stukkende krag- en watermeters

Die onbillike optrede van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) om inwoners met stukkende krag- en watermeters buitensporig aan te slaan, kan nie langer geduld word nie.

Verbruikers wat hierdie soort rekeninge ontvang, het reeds die stukkende meters aangemeld, maar dit kan nie vervang word nie omdat die munisipaliteit nie voorraad het nie.

Baie inwoners wag reeds ʼn jaar of drie vir hul meters om vervang te word.

Die VF Plus het ook sy kommer uitgespreek oor inwoners wat van boorgatwater gebruik maak, maar steeds ʼn geskatte waterrekening ontvang.

Inwoners wat by die party kom kla het, het in een maand drie jaar se geskatte water- en rioolrekening ontvang. Een inwoner se waterrekening was R40 455 en riool R6 649. ʼn Ander wat water uit ʼn boorgat pomp, moes R30 035 vir water en R6 648 vir riool betaal.

Volgens die munisipaliteit se tariefboek vir die 2025/26-finansiële jaar word onleesbare, foutiewe of nie-funksionele watermeters teen ʼn vaste tarief van 30 kiloliter per maand aangeslaan. Die tarief is onregverdig omdat baie verbruikers nie soveel water per maand gebruik nie.

In die geval van kragverbruik kon die party geen spesiale voorsiening vind wat die proses verduidelik wanneer ʼn kragmeter buite werking is of wat die proses uiteensit nie.

Die VF Plus het in ʼn brief aan die departement van finansies die volgende vrae gestel:

• Watter rekeningbeleid word toegepas wanneer ‘n water- of kragmeter vir ’n lang tydperk foutief of onleesbaar is?
• Word daar ‘n standaardverbruik of geskatte verbruik toegepas? Indien wel, wat is die vasgestelde syfer?
• Is hierdie praktyk konsekwent toegepas oor die afgelope drie finansiële jare?
• Is daar enige bepalings in die munisipale verordeninge of kredietbeheerbeleid wat voorsiening maak vir:
 Terugwerkende aanpassings of betwisting van heffings wanneer ‘n fout bevestig word?

Inwoners van Emfuleni kan nie langer onregmatig behandel word nie.

Die VF Plus sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas om te sorg dat verbruikers regverdig behandel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.