Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emfuleni-munisipaliteit finaal uit OK-gebou geskop

Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) is finaal uit die OK-gebou in President Paul Krugerstraat, Vanderbijlpark, geskop nadat die eienaars die huurkontrak beëindig het weens die munisipaliteit se onvermoë om huur te betaal.

Die gebou het die departement van finansies gehuisves, maar die eienaar het reeds in Desember 2025 aangedui dat die kontrak op 31Mei 2026 sou eindig.

Tog het die munisipale bestuurder, April Ntuli, eers vandeesweek Woensdag werkers opdrag gegee om die gebou teen vandag (Vrydag) te ontruim.

Die munisipaliteit het drie maande gelede besluit om nie langer die maandelikse huurgeld van R1,4 miljoen te betaal nie.

In stede daarvan is ’n groot gedeelte van die Absa-gebou in FW Beyersstraat teen R1,2 miljoen per maand gehuur.

’n Onlangse besoek het egter gewys dat die gebou nog nie gereed is om die 220 amptenare te huisves nie. Kontrakteurs is steeds besig om kantore te omskep, daar is geen internetverbinding nie en die dienssentrum kan daarom nie navrae of betalings hanteer nie.

Hierdie jongste episode volg op ’n geskiedenis van wanbestuur waar die OK-gebou se eienaar al verskeie kere die deure moes sluit totdat agterstallige huur betaal is. Selfs die parkeerarea is al met rioolwater oorstroom toe ’n pyp gebars het.

Die inwoners van Emfuleni betaal nou die prys vir ’n administrasie wat nie sy basiese verpligtinge kan nakom nie.

’n Skrywe is reeds aan die munisipale bestuurder gerig waarin ‘n verduideliking geëis word oor die nie-betaling van huur en die versuim om die Absa-gebou betyds gereed te kry.

Die tyd het aangebreek om ’n einde te maak aan die ANC se wanbestuur wat gemeenskappe straf.

Inwoners moet seker maak hulle is geregistreer om op 4 November te stem vir die VF Plus wat die behoeftes van kiesers eerste stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.