Die VF Plus het hierdie week weer sterk beswaar aangeteken teen die Ekurhuleni-metro se sogenaamde openbare deelnameproses rakende die voorgestelde kragtariewe.
Alhoewel die metro voorgee dat die proses regmatig is, word die meerderheid inwoners effektief uitgesluit weens die strategiese groepering van vergaderings op plekke ver van verskeie gemeenskappe.
Inwoners van Germiston, Alberton, Thokoza en Benoni moet by Boksburg-stadsaal aanmeld, terwyl ander van Kemptonpark, Edenvale, Brakpan, Springs en Nigel na die KwaThema-burgersentrum verwys word.
Selfs met die belofte van beperkte busvervoer en ’n enkele regstreekse uitsending, bly die proses ontoeganklik vir die breë publiek.
Die VF Plus het herhaaldelik met die metro hieroor gekommunikeer, maar slegs ’n tegniese en teleurstellende reaksie van die regsafdeling ontvang wat nie die werklike uitsluiting aanspreek nie.
Hoewel ’n virtuele deelname-geleentheid vir 30 September om 18:00 beplan word, is dit onvoldoende om ware openbare betrokkenheid te verseker oor ’n saak wat elke huishouding finansieel raak.
Openbare deelname mag nooit ’n afmerk-oefening wees nie — dit moet inklusief, regverdig en deursigtig wees.
Die VF Plus dring aan op:
• Duidelike bevestiging van die virtuele vergadering se besonderhede.
• ’n Elektroniese kanaal vir insette (e-pos en kontakbesonderhede) waarheen inwoners hul insette kan stuur om deel te vorm van die amptelike openbare deelname-rekord.
• Wye verspreiding van inligting oor deelname-geleenthede aan alle gemeenskappe.
Die metro het ’n grondwetlike plig om met inwoners in gesprek te tree op ’n wyse wat werklik inklusief is.
Die VF Plus sal die proses fyn dophou en is gereed om dit na die Gautengse wetgewer te verwys indien inwoners se regte ondermyn word.


