Die VF Plus verwelkom die vonnis van nege jaar wat die Brakpan-streekhof aan ʼn buitelandse burger opgelê het vir kabeldiefstal in Maart vanjaar.
Khothatso Adora is skuldig bevind aan die vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur, diefstal van infrastruktuur en onwettige immigrasie.
Dié Lesotho-burger is op 23 Maart helder oordag langs die R23 na die Makro in Brakpan betrap waar hy besig was om kragkabels uit die grond te grawe.
Die VF Plus in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy het die man betrap en na die naaste polisiekantoor geneem.
Die man het die polisie na ʼn skrootwerf in Alberton gelei waar hy glo die gesteelde goedere verkoop het. Die polisie het na ʼn ondersoek sowat 10 ton koper op die perseel gevind waarna die eienaar in hegtenis geneem is.
Hierdie vonnis is ‘n belangrike oorwinning in die stryd teen persone wat noodsaaklike infrastruktuur beskadig en steel.
Dit stuur ʼn sterk boodskap aan voornemende kabeldiewe dat die misdaad nie geduld sal word nie.
Kabeldiefstal veroorsaak herhaalde kragonderbrekings en miljoene se skade aan munisipale infrastruktuur, wat huishoudings, ondernemings en dienslewering direk beïnvloed.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners om waaksaam te bly en voort te gaan om verdagte aktiwiteite aan te meld by die Ekurhuleni-metro se dienssentrum by 086 054 3000 of ʼn e-pos met inligting oor misdadige bedrywighedete stuur aan centre@ekurhuleni.gov.za.


