Eskom se dreigement om die Ekurhuleni-metro se krag af te sny weens wanbetaling kan nie ligtelik opgeneem word nie en die metro sal dringend met Eskom moet onderhandel om dit te voorkom.
Die VF Plus neem kennis van die Ekurhuleni se verklaring waarin inwoners gerusgestel word dat daar geen onmiddellike gevaar bestaan dat Eskom die kragtoevoer sal sny nie. Die party deel egter nie hierdie misplaaste optimisme nie.
Eskom het oor die naweek ʼn openbare kennisgewing in die Saturday Star laat publiseer waarin hy sy voorneme bekend maak om óf die krag af te sny na dele van die metro, óf ladingsvermindering toe te pas, óf die kragverbinding totaal te sny op 27 Maart.
Volgens die metro het hy nog geen formele korrespondensie hieroor van Eskom ontvang nie. Dit maak die dreigement nie minder ernstig nie. Ekurhuleni se geskiedenis van wanbetaling kom al te ver
Luidens die Eskom-kennisgewing skuld die metro Eskom R2,3 miljard aan historiese skuld en R1,5 miljard op sy lopende rekening wat op 7 Maart betaalbaar is.
In die kennisgewing nooi Eskom alle belanghebbendes, ook inwoners, om voor of op 18 Maart insette te lewer oor waarom die krag nie gesny moet word nie.
Dit is onaanvaarbaar dat die getroue belastingbetalers van Ekurhuleni moontlik die slagoffers kan word weens die metro se onbevoegdheid en versuim om vir ‘n onontbeerlike diens te betaal.
Die VF Plus dring daarop aan dat die metro oop kaarte speel met politieke partye en inwoners oor sy Eskom-skuld en dadelik met die kragverskaffer onderhandel om die situasie te beredder.
Een van die groot probleme is dat die metro nie die geld wat inwoners aan hom betaal vir krag aan Eskom oorbetaal nie, maar aanwend om ander uitgawes te dek.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die metro te plaas om openlik te kommunikeer en verantwoordelik op te tree.
Doeltreffende oplossings moet in werking gestel word wat sal verseker dat Ekurhuleni nie in die toekoms met ‘n werklike onderbreking van grootmaat elektrisiteitsvoorsiening gekonfronteer word nie