Agriparke in die Tshwane-metro is ʼn teleurstelling en dit is duidelik dat die Tshwane-metro nie sy verantwoordelikheid teenoor kleinboere nakom nie.
Die VF Plus het met ʼn oorsigbesoek aan kleinplase in Kleinsonderhout, Rooiwal en Soshanguve die verval eerstehands beleef.
Opkomende boere op dié plase fokus hoofsaaklik op die kweek van groente en braaikuikens.
Die produkte word op die plaaslike mark en aan supermarkte verkoop.
Die metro het ʼn kontraktuele verantwoordelikheid teenoor die kleinboere om hul landbou-bedrywighede te steun deur infrastruktuur, hulpbronne en dienste aan die boere te verskaf.
Die metro het egter nie die finansies of vermoë om die terreine te onderhou nie.
Met die oorsigbesoek is gevind dat sinkpanele op dakke weg is, die gras lank is en dat daar water- en kragprobleme is.
Die VF Plus gaan aanstaande week suksesvolle boere en landbou-organisasies nader om leiding te gee aan die kleinboere om hul ondernemings suksesvoller te bestuur. Hierdeur kan private vennootskappe gesluit word.
Die VF Plus steun die kleinboere in die metro se Agriparke en sal graag wil sien dat hulle sukses behaal.


