Die Ekurhuleni-metro moet dringend sy bestaande departementele diensleweringstandaarde hersien en opdateer.
Die bestaande standaarde is verouderd en in baie gevalle onprakties en onuitvoerbaar. Dit is in 2017 laas hersien. ʼn Voorbeeld is die 24-uur wagtydperk vir die herstel van ‘n slaggat nadat dit gerapporteer is wat nie realiseer nie.
Die redes is ʼn tekort aan hulpbronne soos opgeleide arbeid asook materiaal en toerusting en die personeel is baie gevalle onbevoeg en onwillig. Finansiële en politieke onstabiliteit speel ook ʼn rol.
Dit maak ʼn bespotting van die standaarde as net leë woorde op papier.
In die geval van slaggate moet ʼn meer realistiese hersteltydperk gegee word waarop inwoners werklik kan staatmaak. Dieselfde geld die sewe dae-reaksie op rekening-navrae.
Ekurhuleni beskik wel oor goeie inligtingstegnologie-infrastruktuur en personeelvermoë om te sorg dat die standaard gewysig word om diens te verbeter.
Die gebrekkige standaarde-situasie skep ook die probleem dat al die departemente se prestasie-vlakke nie behoorlik gemeet kan word nie en wat realistiese prestasie-beoordeling kniehalter.
Departementele verantwoordbaarheid en gevolge vir wanprestasie ly daaronder.
Die verouderde standaarde is een van die redes waarom die VF Plus die 2024-begroting verwerp het. Dit maak deel uit van die begroting en behoorlike oorsig.
Ander partye het die begroting blindelings goedgekeur met die wete dat daar probleme rondom standaarde bestaan.
Die VF Plus het die speaker, Nthabiseng Tshivhenga, versoek dat die standaarde in geheel hersien word om in lyn te wees met die Ekurhuleni-metro se bestaande uitdagings en omstandighede.
Indien inwoners se verwagtinge bestuur word en dienslewering plaasvind in lyn daarmee, sal die inwoners ook meer geneë wees om hulle dienstegelde en grondbelasting te betaal.
Die VF Plus sal aanhou druk op die speaker plaas om die dienslewering-standaarde meer realisties en prakties te maak.
Navrae: 072 217 1951